Nuus 08:00
BULLETIN 6 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se VN-verteenwoordiger sê Nicolás Maduro se ontvoering ondermyn diplomasie
# Maduro en sy vrou het onskuldig gepleit met hul eerste hofverskyning
# En 25 mense is dood in die Wes-Kaap terwyl terugkerende vakansieverkeer ‘n hoogtepunt bereik
# Suid-Afrika sê Amerika se militêre optrede teen Venezuela en die inhegtenisneming van president Nicolás Maduro en sy vrou skend Venezuela se soewereiniteit, gebiedsintegriteit en onafhanklikheid. Suid-Afrika se waarnemende adjunkverteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Jonathan Passmoor, het die land se verklaring gister tydens ‘n vergadering van die VN-veiligheidsraad gelewer. Passmoor sê internasionale geskille moet hanteer word sonder om vrede, sekuriteit en geregtigheid in gevaar te stel:
Maduro en sy vrou, Cilia Flores, het intussen gister onskuldig gepleit op dwelm-, wapen- en narko-terrorisme-aanklagte tydens hul eerste verskyning in ʼn federale hof in New York. Die 63-jarige Maduro en sy vrou is Saterdag deur Amerikaanse spesiale magte aangekeer tydens ʼn operasie in opdrag van president Donald Trump. Maduro het tydens die aanklag van 40 minute gesê hy is steeds die president van Venezuela, hy is onwettig gevange geneem en is ʼn krygsgevangene. Sy volgende hofverskyning is op 17 Maart.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad doen ‘n beroep op volgehoue padveiligheid en samewerking met duisende pendelaars wat na die feestyd huiswaarts keer. Die taxiraad doen ‘n beroep op taxibestuurders om verkeerswette te gehoorsaam, moegheid te vermy en aflosbestuurders te gebruik, veral op langafstandroetes. Die woordvoerder virSantaco, Rebecca Phala, het pendelaars aangemoedig om hul reise te beplan, geakkrediteerde taxi’s te gebruik en geduldig te wees tydens spitstye:
# Die Wes-Kaapse Departement vir Mobiliteit sê 25 padsterftes is tussen 29 Desember 2025 en 4 Januarie vanjaar op die provinsie se paaie aangemeld. In dieselfde tydperk is 88 mense gearresteer waarvan 65 vir dronkbestuur was. Verkeersvolumes bly hoog terwyl inwoners en besoekers binne en buite die provinsie ná die vakansie huiswaarts keer. LUR Isaac Sileku sê terwyl wetstoepassing noodsaaklik bly, is gedragsverandering die belangrikste manier om verdere lewensverlies te voorkom:
# Krieket: Sunrisers Eastern Cape is boaan SA20 se punteleer danksy ʼn oortuigende bonuspunt-oorwinning met tien paaltjies oor Pretoria Capitals in Centurion. Anrich Nortjé het drie paaltjies laat kantel en die Capitals is in hul 20 boulbeurte beperk tot 170 vir sewe. Daarna het die aanvangskolwers Quinton de Kock en Jonny Bairstow onoorwonne tellings van onderskeidelik 79 en 85 aangeteken en Sunrisers tot ’n oorwinning gelei met al tien paaltjies staande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33 sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-13 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-en-785 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464 dollar 25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-40-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….