Nuus 08:00
BULLETIN 28 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Afrikaner wat asiel in VSA wou kry, is aangehou na sy aankoms met ‘n toeristevisum
# Die Weerdiens waarsku teen ontwrigtende reën vandag in ses provinsies
# En krieket, die Joburg Super Kings en Sunrisers Eastern Cape behaal oortuigende weg-oorwinnings in die SA20
# ‘n Nege-en-vyftig-jarige Suid-Afrikaner, Benjamin Schoonwinkel, het in September met ‘n toeristevisum na die VSA gereis onder die indruk dat hy asiel sou ontvang ingevolge president Donald Trump se program om minderhede teen vervolging te beskerm. In plaas daarvan was hy vir byna drie maande in immigrasie-aanhouding. Volgens die New York Times het Schoonwinkel nie, soos vereis, via die amptelike Amerikaanse vlugtelingprogram aansoek gedoen terwyl hy nog in Suid-Afrika was nie. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, het in reaksie gesê Suid-Afrika verwag dat sy burgers die wette van ander lande sal nakom.
# Die Forum for South Africa sê hulle bly diep bekommerd oor selektiewe geregtigheid in Suid-Afrika. Die Spesiale Ondersoekeenheid het in die week ‘n bewaringsbevel verkry om ‘n eiendom in Pretoria, wat gekoppel is aan die oorlede akteur Presley Chweneyagae, te bevries. FOSA-leier, Tebogo Mashilompane, sê die SOE tree in sommige gevalle vinnig en beslissend op, terwyl baie ernstige sake wat individue met politieke bande, grootskaalse korrupsie en die plundering van staatshulpbronne betrek, steeds sonder gevolge voortgaan:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n weervlak-2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën en hewige donderstorms vandag in ses provinsies. Dit is vir die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en Gauteng. Weervoorspeller Leholohonolo Thobela sê hewige donderstorms word verwag, wat kan lei tot oorstromings op kwesbare paaie en in nedersettings en laagliggende gebiede, oormatige weerlig, sterk skadelike winde en storms met klein haelkorrels:
# Die polisie in Gauteng-polisie het begin soek na ‘n aantal verdagtes wat Saterdagmiddag in ‘n transito-rooftog by Thokoza, Ekurhuleni, betrokke was. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die gepantserde transito-voertuig het in Thokoza gery toe ‘n wit Mercedes-Benz daarteen gestamp en dit laat omslaan het. Hy sê ‘n groep verdagtes het toe die veiligheidsbeamptes ontwapen en die gepantserde voertuig met ‘n bom opgeblaas:
# Rusland het Kiëf en ander dele van Oekraïne gister met honderde missiele en hommeltuie bestook, in die aanloop tot vandag se deurslaggewende vergadering tussen die Amerikaanse president Donald Trump en president Volodymyr Zelensky van Oekraïne om die einde van die vier-jaar lange oorlog te beplan. Zelensky sê die nagenoeg 500 hommeltuie en 40 missiele het krag en verhitting in dele van die hoofstad onderbreek. Die Oekraïnse leier sê vandag se gesprekke in Florida sal fokus op veiligheidswaarborge en gebiedsbeheer wanneer gevegte eindig.
# En om mee af te sluit, krieket: Die Joburg Super Kings het die Pretoria Capitals gister met 22 lopies in hul SA20-wedstryd in Centurion verslaan, en danksy ‘n mededingende 168 vir 6 die Capitals tot 146 vir 9 beperk het. Sunrisers Eastern Cape het ‘n oorheersende oorwinning van 137 lopies oor die gashere Paarl Royals op Boland Park behaal. Die Sunrisers het 186 vir 4 aangeteken en die Royals vir ‘n rekord-laetelling van 49 lopies uitgeboul. Vanmiddag pak die verdedigende kampioene MI Cape Town die Durban Super Giants op Kingsmead in hul tweede ontmoeting, nadat die Durbaniete die Kapenaars Vrydag met 15 lopies op Nuweland geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….