Nuus 08:00
BULLETIN 22 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nasionale Tesourie gaan fokus op die verbetering van elektrisiteit en logistiek
# Die Senzo Meyiwa-moordverhoor hervat die eerste keer vanjaar
# En, die Israelse eerste minister verwerp Hamas se voorwaardes vir die vrylating van gyselaars
# Die Nasionale Tesourie sê die regering gaan in die medium termyn daarop fokus om die bruto binnelandse produk te laat groei deur die voorsiening van elektrisiteit en logistiek te verbeter, en die lewering van infrastruktuur te versnel. Dit volg nadat die graderingsagentskap, Fitch, se kredietgradering vir Suid-Afrika op BB minus bly, en die geldeenheid se langtermyn- buitelandse en plaaslike skuldgradering stabiel gehou het. Tesourie sê hy vertrou die regte fiskale strategie is gereed om finansiële volhoubaarheid te verseker en ekonomiese groei te skep.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, sê onderwys het die krag om die armoedesiklus te verbreek en lewens te verander. Deur gebruik te maak van onderwysgeleenthede by instellings van hoër onderrig, het talle begunstigdes van maatskaplike toelae daarin geslaag om ‘n beter toekoms vir hulleself en hulle families te skep en so die tussen-generasie siklus van armoede en ongelykheid te verbreek. Die departement se woordvoerder, Lumka Oliphant, sê die voordele van maatskaplike toelae strek verder as individuele begunstigdes na die breër samelewing:
# Die verhoor van die vyf mans wat beskuldig word van die moord op die gewese Bafana Bafana-kaptein, Senzo Meyiwa, hervat vandag in die Hooggeregshof in Pretoria nadat dit byna twee maande gelede uitgestel is. Die polisie se ondersoekbeampte, Bongani Gininda, sal na verwagting in die getuiebank verskyn. Hy moes in November verlede jaar vrae beantwoord oor ‘n moontlike verskuilde agenda toe beskuldigde nommer een, Muzi Sibiya, weens dwelms gearresteer is en ʼn paar ure later is sy erkentenisverklaring na bewering by die Diepkloof-polisiekantoor afgeneem.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Hamas se voorwaardes om die oorlog te beëindig en die gyselaars in Gaza vry te laat, verwerp. Hy sê in ruil vir die gyselaars se vrylating, eis Hamas die einde van die oorlog, die onttrekking van Israelse magte uit Gaza en die vrylating van alle Palestynse gevangenes. Netanyahu sê dit laat die militante groep ongeskonde. ʼn Senior Hamas-beampte sê die Israeliese leier se weiering om die militêre optrede in Gaza te stop, beteken daar is geen moontlikheid dat die gyselaars gaan terugkeer nie.
# Krieket: Die Paarl Royals het op Bolandpark hul heel eerste sege in ʼn Kaapse derby oor MI Cape Town behaal. Hulle spog ook met ʼn 59-lopie-bonuspunt om hulle posisie boaan die SA20-ranglys te verseker. ʼn Aanvangsvennootskap van 116 lopies tussen Jason Roy en Jos Buttler het die grondslag gelê vir die Royals se totaal van 162 vir drie. MI Cape Town is daarna vir net 103 uitgeboul in hulle derde nederlaag in die kompetisie. Die Royals se draaibouler, Tabraiz Shamsi, sê hulle het ekstra motivering gehad om te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-155-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….