Nuus 08:00
BULLETIN 16 Juliee 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie verwelkom die VN-verslag oor Palestynse kinders
# Fikile Mbalula sê die ANC finaliseer sy burgemeesters- en wykskandidate
# En sokker: Argentinië klop Engeland vir ‘n eindstryd teen Spanje
# Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê die regering het die jongste Verenigde Nasies-verslag oor die besette Palestynse gebiede verwelkom, aangesien dit hul saak voor die Internasionale Hof van Justisie ondersteun. Magwenya sê Suid-Afrika sal voortgaan met wetlike en diplomatieke pogings ter ondersteuning van die Palestynse volk. Hy sê die bevindinge beklemtoon die dringende behoefte aan groter internasionale optrede om burgerlikes te beskerm en internasionale reg te handhaaf:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party gaan voort met voorbereidings vir die verkiesing van plaaslike regerings in November, insluitend die finalisering van burgemeesterskandidate. Hy sê die party is amper klaar met onderhoude vir metro’s en sal binnekort kandidate in sekondêre stede kies. Die ANC finaliseer ook die meer as tien-duisend kandidate wat in kiesafdelings deur die land sal staan. Mbalula sê hierdie proses het swakhede in die party se vorige benadering met plasing van personeel in munisipaliteite uitgewys.
# Die Gautengse taakspan oor politieke moorde het ‘n 35-jarige man gearresteer in verband met die moord op die EFF se sekretaris vir Tshwane Streek 2 en verkiesings-koördineerder, Monicca Dube. Die 44-jarige Dube is verlede maand talle kere geskiet by haar huis in Wallmannsthal, noord van Pretoria. Die verdagte sal na verwagting vandag in die Cullinan-landdroshof verskyn. Haar moord is deur die EFF en sy leier, Julius Malema, veroordeel wat ʼn deeglike ondersoek aangevra het en eis dat die oortreders gestraf word.
# Amerika se weermag het gisteraand ʼn nuwe reeks aanvalle teen Iran uitgevoer. Hy sê dit was gemik op Iran se militêre vermoë om vaartuie te bedreig wat vryelik deur die Straat van Hormoes beweeg. Dit volg nadat Iran beweer het hy het Amerikaanse militêre teikens in die streek aangeval, insluitend in Bahrein en Koeweit. President Donald Trump het by die Verdediging- en Innovering-beraad in Carlisle, Pennsilvanië, gewaarsku Teheran “beter hom gedra” en bygevoeg hulle sal binnekort besluit of hulle met Iran moet skik:
# Sokker: Die heersende kampioene, Argentinië, het in Atlanta twee laat doele aangeteken om Engeland met 2-1 te klop. Argentinië en Spanje takel mekaar in Sondag se eindstryd in New York. Engeland het na Anthony Gordon se doel in die tweede helfte voorgeloop. Enzo Fernandez het sake in die 85ste minuut egter gelykop gemaak voor die plaasvervanger, Lautaro Martinez, die wendoel in die 92ste minuut behaal het. Argentinië wil die eerste span word wat agtereenvolgende Wêreldbekers wen sedert Brasilië dit in 1958 en 1962 reggekry het. Engeland en Frankryk spook Saterdag in Miami sake uit vir derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-577-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-28-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….