Nuus 08:00
BULLETIN 15 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Good-party doen ‘n beroep op president Ramaphosa om die regering se Amerikaanse strategie te verduidelik
# Die Parlement se komitee oor die Polisie is bekommerd oor Sibiya se verlof
# En ’n toevallige Britse databreuk plaas duisende Afghane in gevaar
# Die GOOD-party sê president Cyril Ramaphosa moet dringend die volk oor die diplomatieke strategie vir die VSA inlig. Dit volg na die DA se bewerings dat Ramaphosa maande reeds geweet het dat die spesiale gesant, voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, ‘n visum deur Amerika geweier is. Die sekretaris-generaal van die GOOD-party, Brett Herron, sê om aan te hou om Jonas as ‘n aktiewe gesant voor te stel kom neer op misleiding en kan Suid-Afrika se kans benadeel om dreigende 30-persent heffings te vermy:
# AfriForum sê die jongste onthullings oor die spesiale gesant na Noord-Amerika, Mcebisi Jonas, beklemtoon weer die ANC-geleide regering se verkeerde hantering van die diplomatieke krisis met Amerika. Dit volg na die DA se bewering dat Amerika Jonas in Mei vanjaar ‘n diplomatieke visum geweier en sy getuigskrifte verwerp het. Die Presidensie ontken dit. Ernst van Zyl van AfriForum sê die regering moet onmiddellik bekendmaak waarmee Jonas die afgelope 90 dae besig was in sy rol as spesiale gesant:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die Polisie, Ian Cameron, het kommer uitgespreek oor die prosesse wat gevolg is om die adjunk- nasionale polisiekommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, op spesiale verlof te plaas. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beskuldig Sibiya van regsverydeling, vertraging van ondersoeke na politieke sluipmoorde en georganiseerde misdaad, en die beskerming van verdagtes met politieke bande. Cameron sê in die polisie is dit hoogs onregmatig om iemand wat van oortreding verdink word op spesiale verlof te plaas eerder as om hulle te skors:
# Duisende Afghaanse mense waarvan sommige saam met Britse magte in Afghanistan gewerk het, is in die geheim in die Verenigde Koninkryk hervestig nadat ʼn Britse amptenaar in 2022 per ongeluk hul inligting laat uitlek het. Die flater het die persoonlike inligting van byna 20-duisend mense bekendgemaak en stel hulle bloot aan ernstige geweld of moord deur die Taliban. Die Verenigde Koninkryk se minister van Verdediging, John Healey, het aan die Laerhuis gesê byna sewe-duisend Afghaanse burgers wat deur die voorval geraak word, is in dié land hervestig:
# Gholf: Die verdedigende kampioen van Amerika, Xander Schauffele, speel saam met sy landgenoot, JJ Spaun, en die Spanjaard Jon Rahm in die eerste twee rondes van die Ope Kampioenskap wat môre by Royal Portrush in Noord-Ierland begin. Rory McIlroy speel op sy tuisgrond saam met Tommy Fleetwood van Engeland en die Amerikaner Justin Thomas, terwyl hy probeer om sy tweede Major-oorwinning van die seisoen in te palm. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, slaan af saam met sy landgenoot Collin Morikawa en die Ier, Shane Lowry. Tien Suid-Afrikaners neem deel onder leiding van Louis Oosthuizen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen XX-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-456-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….