Nuus 08:00
BULLETIN 15 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi lei ‘n afvaardiging by die VN se Teen-Korrupsie Konferensie
# Die EFF beskuldig minister Malatsi dat hy sy gesag oorskry
# En rugby: Die Northampton Saints mors met die Bulle in die Kampioenebeker
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, lei vandag die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die elfde VN Teenkorrupsie-konferensie in Doha. Die woordvoerder van die minister, Terrence Manase, sê die week lange geleentheid sal na verwagting meer as twee-duisend afgevaardiges van oor die wêreld saamtrek vir samesprekings oor voorkoming en bedreigings, insluitend kubermisdaad en KI-korrupsie. Die span van Suid-Afrika sluit in die SAPD, die Nasionale Vervolgingseenheid, die Spesiale Ondersoekeenheid, die Finansiële Intelligensiesentrum en die Departement van Internasionale Betrekkinge:
# Die EFF het die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, beskuldig dat hy ‘n ministeriële beleidsriglyn gebruik om Suid-Afrikaanse wette te ondermyn deur SpaceX en Elon Musk se Starlink in Suid-Afrika toe te laat. Malatsi het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid opdrag gegee om sy regulasies te wysig en internasionale rolspelers in die land toe te laat deur ʼn ander stel bemagtigingsreëls te gebruik. Die EFF sê hy sal meganismes in die Parlement en howe gebruik om seker te maak die onwettige riglyne word nie ingestel nie.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê hy glo die nuutverkose leiers van die Groter Tshwane-streek sal weer die mag vir die party in die hoofstad oorneem. Die adjunk-burgemeester van Tshwane, Eugene Modise, is onbestrede as voorsitter verkies, terwyl George Matjila en Sam Mashola onbestrede as onderskeidelik streek-sekretaris en adjunk-sekretaris herkies is. Mbalula het Sondag in sy slotrede op die 12de streekkonferensie van die party in Tshwane ‘n dringende beroep op die leierskap gedoen om dissipline en eenheid te toon:
# Wetstoepassers het ʼn persoon van belang vasgetrek in verband met die skietvoorval by die Brown Universiteit in Amerika waarin twee studente dood is. Nege ander is beseer toe die 24-jarige Benjamin Erickson van Wisconsin Saterdag op mense by die Ivy League-universiteit in Providence, Rhode Island, losgebrand het. Die verdagte is vroeg gisteroggend by ʼn hotel in Coventry gearresteer. Providence se polisiehoof, Oscar Perez, sê hulle soek nie na nog verdagtes nie:
# Rugby: Die Engelse klub, Northampton Saints, het die Bulle met 50-5 afgeransel in die Kampioenebeker by Franklin Gardens, om die maksimum punte vir hul eerste twee wedstryde te behaal. Die gashere het agt drieë gedruk en George Hendy spog met ʼn driekuns. Stravino Jacobs het die Bulle se enigste drie gedruk. Die Saints is nou boaan die punteleer terwyl Bordeaux Bègles ook tien punte het. Die Bulle moes reeds twee keer die knie buig nadat hulle verlede naweek tuis met 46-33 teen Bordeaux verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87 sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-54 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-en-524 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-319 dollar, 82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-23-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….