Nuus 08:00
BULLETIN 13 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson gaan die Redcliffe-terrein in KwaZulu-Natal besoek
# Vervaardigingsproduksie styg met 0,2-persent in Oktober
# En gholf: Chacarra lei met Schaper op sy hake in die Alfred Dunhill-kampioenskap
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sal vanmiddag die bouterrein besoek waar ‘n vierverdieping-gebou in Redcliffe, noord van Durban, ineengestort het. Die Nuwe Ahobilam Tempel van Beskerming in Verulam het gedeeltelik ineengestort, wat twee mense dood en drie ander vasgekeer gelaat het. Die woordvoerder van Openbare Werke en Infrastruktuur, James de Villiers, sê Macpherson sal oor die voorval ingelig word en deur senior amptenare vergesel word:
Cosatu sê intussen daar is herhaaldelike veiligheidsprobleme in die bousektor. Woordvoerder Zanele Sabela sê die voorval in Redcliffe kom ooreen met die George-tragedie van 2023 in die Wes-Kaap. Sy dring aan op dringende reddingspogings, deeglike ondersoeke en strafregtelike aanklagte vir enige oortreding:
# # Statistieke Suid-Afrika berig vervaardigingsproduksie het in Oktober met 0,2-persent gestyg vergeleke met dieselfde maand verlede jaar, gelei deur groei in voedsel, drank en elektriese masjinerie. Die hout-, papier- en glassektore het egter dalings aangeteken. Nicolai Claassen van Statistieke SA sê vervaardigingsverkope het op ‘n maandelikse basis met 0,8-persent gedaal, maar was een-persent hoër oor die afgelope drie maande, gedryf deur die metaal- en meubelsektore:
# Die Wes-Kaapse regering doen ‘n beroep op motoriste, vragmotorbestuurders en voetgangers om veiligheid te prioritiseer voor een van die eerste besige feestydnaweke. Drie-en-veertig voorvalle waarby swaar voertuie betrokke was, is sedert die begin van Desember op provinsiale paaie aangeteken, insluitend gebreekte voertuie, botsings en voertuie wat omgeslaan het. Die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê verkeerswetstoepassing sal dag en nag langs die hoofroetes aan diens wees en herinner voetgangers om paaie veilig oor te steek en sigbaar te bly:
# Bykans 60 Afrika-migrante is Vrydag na Malta geneem nadat hulle boot naby die Mediterreense eiland omgeslaan het. Dit is een van die grootste groepe in onlangse jare. Die groep is deur bote van die Malta se gewapende magte gered en het in Bugibba, noord van Valletta geland. Ooggetuies sê verskeie ambulanse en baie polisiebeamptes was op die toneel. Die migrante was in komberse toegedraai, en sommige is op draagbare weggeneem. Die aankoms van migrante in Malta op klein bote vind nou redelik min plaas, met net meer as 200 wat in 2024 aangekom het, vergeleke met meer as twee-duisend in 2020.
# En gholf: Eugenio Chacarra van Spanje begin die naweek met ‘n voorsprong van twee houe by die Alfred Dunhill-kampioenskap op die Royal Johannesburg. Jayden Schaper is sy naaste uitdager. Die jong Suid-Afrikaner is vir die tweede agtereenvolgende week op soek na ‘n DP World Tour-titel. Chacarra loop voor met 15 onder baansyfer na ‘n goeie ronde van 66. Schaper hoop om druk op die leier te plaas na sy tweede ronde van 64 op 13 onder. Schaper was in 2020 tweede na Christiaan Bezuidenhout in die Alfred Dunhill-kampioenskap .
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….