Nuus 08:00
BULLETIN 12 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP-lede wat in gesamentlike ANC-verkiesingstrukture dien, word versoek om te onttrek
# Die Parlement verwelkom ‘n ondersoektaakspan na die matriekeksamenoortreding
# En die VSA stel sanksies in teen ses Venezolaanse olieskepe
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Algemene Raad het besluit SAKP-lede wat deel is van die ANC se gesamentlike verkiesingstrukture, moet onttrek. Dit volg na die SAKP se besluit om onafhanklik van die alliansie aan die 2026 munisipale verkiesing deel te neem. Ramaphosa het gisteraand in sy slotrede by die raadsvergadering in Boksburg, Gauteng, gesê hulle sal kontak met die SAKP behou:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het die stigting van ‘n Nasionale Ondersoektaakspan verwelkom na aanleiding van die oortreding in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die oortreding betrek 26 matrikulante van sewe skole in Pretoria. Die uitgelekte vraestelle is Engels Huistaal, Wiskunde en Fisiese Wetenskap. Twee werknemers van die Departement van Basiese Onderwys is intussen geskors. Die komitee sê elke leerder, ouer, opvoeder en instelling moet volle vertroue hê dat die eksamenuitslae geloofwaardig, billik en betroubaar is. Die komitee sê die beskerming van die NSS se integriteit is ‘n nasionale prioriteit.
# Die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit sê pogings is onderweg om pendelaars veilig te hou en geweld in die minibustaxibedryf te beëindig. Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het uitspraak gelewer in ‘n saak oor geskille tussen mededingende taxigroepe oor die M18-roete. Die LUR vir Mobiliteit , Isaac Sileku, waarsku taxi-operateurs om die reëls te volg of regstappe te verwag. Hy sê die departement sal met die polisie saamwerk om ‘n veilige, gereguleerde taxistelsel te verseker:
# Amerika se Tesourie het sanksies ingestel teen drie neefs van president Nicolás Maduro van Venezuela se vrou, asook teen die sakeman Ramon Carretero, ses firmas in die oliesektor, en ses Venezolaanse skepe. Dit volg ‘n dag nadat die Amerikaanse weermag langs die Venezolaanse kus beslag gelê het op ʼn olietenkskip. Die minister in die Tesourie, Scott Bessent, sê die sanksies kanselleer die Biden-administrasie se poging om ʼn ooreenkoms met Maduro te bereik, wat diktatoriale en brutale beheer ten koste van die Venezolaanse en Amerikaanse mense moontlik gemaak het.
# Gholf: Christiaan Burke van Suid-Afrika en die Spanjaard, Eugenio Chacarra, het albei nege onder baansyfer 63 behaal en loop voor na die eerste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap by Royal Johannesburg. Hulle is een hou voor twee ander Suid-Afrikaners, die voormalige wenner Brandon Stone en Thriston Lawrence. Nog ʼn gewese kampioen, die Suid-Afrikaner Branden Grace, is twee houe agter die voorlopers. Burke sê hy is tevrede met sy vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-233-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-270-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….