Nuus 08:00
BULLETIN 10 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Vryheidsmanifes het Suid-Afrika se demokratiese bestel gevorm
# Die DA sê die SANW gaan ten volle agteruit
# En Volodymyr Zelensky sê Oekraïne is gereed vir ‘n verkiesing
# President Cyril Ramaphosa sê die Vryheidsmanifes se visie van ‘n vrye en demokratiese samelewing inspireer en rig Suid-Afrika se stryd. Hy het gisteraand in Boksburg, Gauteng, die hoofrede gelewer by die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes se aanvaarding op 26 Junie 1955 in Kliptown. Ramaphosa sê diegene wat beweer die Vryheidsmanifes is nie ingestel nie, praat nie die waarheid nie:
# Die DA eis die volledige instelling van die 2015-verdedigingshersiening wat ʼn oproep is vir volgehoue en veelvlakkige militêre gesondheidsorg. Dit volg na berigte dat slegs 27-persent van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gesond genoeg is om ontplooi te word, terwyl die gesondheidstatus van 36-persent soldate onbekend is. Chris Hattingh van die DA sê bevelvoerders het versuim om verpligte gesondheidsevaluasies te doen en begrotingstekorte beteken die SANW kan nie eens sy mag van 70-duisend lede finansier nie:
# Die IVP se Nasionale Uitvoerende Komitee sê die intimidasie van en moord op fluitjieblasers vernietig openbare vertroue en bedreig die basis van aanspreeklikheid. Dit volg nadat Marius van der Merwe, wat verlede maand voor die Madlanga-ondersoekkommissie getuig het, Vrydag buite sy huis in Brakpan doodgeskiet is. Die IVP se NUK sê die kommissie moet vasberade en onwrikbaar staan teen pogings om sy werk te ondermyn. Hy sê hy ondersteun die kommissie en alle individue wat na vore kom om deursigtigheid en geregtigheid te verdedig.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê hy is gereed om binne die volgende 60 tot 90 dae ʼn verkiesing te hou indien die parlement en buitelandse bondgenote veiligheid kan waarborg. President Donald Trump van Amerika voer aan die Oekraïnse leierskap gebruik oorlog as verskoning om nie ʼn verkiesing te hou nie. Zelensky se vyfjaartermyn het in Mei verlede jaar verstryk, maar die Oekraïnse grondwet verbied verkiesings in oorlogstyd. Hy sê hy sal alle moontlikhede ondersoek om in die komende maande ʼn verkiesing te hou.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Shaun Norris sê hy sien daarna uit om sy Alfred Dunhill-kampioenskapstitel, wat hy verlede jaar by Leopard Creek gewen het, te verdedig. Die belangrikste Sonskyntoer en DP World Tour goedgekeurde toernooi keer hierdie week vir die eerste keer in twee dekades terug na Johannesburg. Voormalige kampioene Louis Oosthuizen, Branden Grace, en Pablo Larrazabal van Spanje is deel van ‘n sterk groep wat by Royal Johannesburg wil wen. Norris sê die gholfbaan is baie veeleisend:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-476-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-211-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….