Nuus 08:00
BULLETIN 5 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom die Jeugwerkverskaffingsdiens se mylpaal van 200-duisend werksgeleenthede
# Die DA dien nuwe bewyse by die polisie in oor die bewerings van oorlogswerwing teen die MK-party
# En gholf: Die Noor Kristoffer Reitan lei die Nedbank Gholf-uitdaging
# President Cyril Ramaphosa sê die Jeugwerkverskaffingsdiens het sedert 2021 met meer as 25-persent per jaar gegroei en werksgeleenthede geskep vir jongmense uit agtergeblewe gemeenskappe. Hy het die hoofrede gelewer by die YES-viering se 200-duisendste werk-mylpaal in Johannesburg. YES het tot op hede aan meer as 202-thousand-500 jongmense goeie werksgeleenthede gebied wat deur een-duisend-900 maatskappye moontlik gemaak is. Ramaphosa sê Suid-Afrika moet ‘n stelsel aanvaar waar jongmense werk en terselfdertyd opgelei word:
# Die DA sê hy het nuwe bewyse aan die polisie voorgelê oor bewerings dat jong Suid-Afrikaanse mans 20-duisend-rand gevra is om via die MK-party by die oorlog tussen Rusland en Oekraïne betrokke te raak. Voormalige president Jacob Zuma en sy dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, word geïmpliseer in die koördinering van die reise. Chris Hattingh van die DA vra ‘n volledige ondersoek, insluitend moontlike vervolging, deregistrasie van die party en die veilige terugkeer van alle slagoffers.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het na aanleiding van vyf sterftes in die Oos-Kaap, sy kommer oor die huidige inisiasietydperk uitgespreek. Die sterftes was in die Buffalo City, Chris Hani en OR Tambo-munisipaliteite. Die polisie het reeds 21 mense betrokke by onwettige inisiasie-praktyke in hegtenis geneem. Hlabisa sê daar moet verrassingbesoeke by inisiasieskole in hoërisikogebiede uitgevoer word om onveilige praktyke te voorkom en samewerking te verseker. Hy het sê nalatigheid of onbetrokkenheid kan nie toegelaat word nie.
# Die Demokratiese Republiek die Kongo se president, Felix Tshisekedi, en sy Rwandese ampsgenoot, Paul Kagame, het ʼn vredesooreenkoms onderteken wat die langdurige konflik in die streek moet beëindig. President Donald Trump van Amerika het die ondertekeningseremonie by die Amerikaanse Instituut vir Vrede in Washington aangebied. Sowat sewe-duisend mense is in gevegte in die ooste van die DRK dood sedert Rwandees-ondersteunde M23-rebelle in Januarie met hernude aanvalle begin het. Trump sê die vredesooreenkoms is ʼn geskiedkundige stap om voorspoed in Afrika te bring:
# Gholf: Kristoffer Reitan van Noorweë het ʼn eerste ronde van nege onder 63 aangeteken en loop voor by die Nedbank-gholfuitdaging in Noordwes. Hy is drie houe voor Marcus Armitage van Engeland, die Fransman Adrien Saddier en Jesper Svensson van Swede. Die Suid-Afrikaners, Garrick Higgo en Shaun Norris, het die eerste ronde afgesluit op vier onder. Reitan sê hy is tot dusver tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-436-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….