Nuus 08:00
BULLETIN 3 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC Veteraneliga sê enige poging om van president Ramaphosa ontslae te raak, sal misluk
# Die ekonoom Raymond Parsons sê daar is ‘n beskeie ekonomiese herstel
# En die sekuriteit word opgeskerp by die Senzo Meyiwa-moordverhoor
# Die ANC-veteraneliga skaar hom agter president Cyril Ramaphosa en sê enige poging om hom te verwyder, sal misluk. Die Sunday World berig daar is toenemende druk in ANC-geledere dat Ramaphosa volgende week by die party se nasionale algemene raad verwyder word. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê egter die vergadering moenie die plek wees waar leierskap-opvolging bespreek word nie. Die veteraneliga se president, Snuki Zikalala, het aan die SABC gesê hy waarsku diegene wat hul vir ‘n ondemokratiese magsverskuiwing beywer:
# ʼn Ekonoom van die Noordwes-universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons, sê matige ekonomiese herstel vind tans plaas en word aangedryf deur ʼn kombinasie van bekende, gunstige verwikkelings. Suid-Afrika se bruto binnelandse produk het in die derde kwartaal tussen Julie en September met 0,5-persent gestyg, wat die vierde agtereenvolgende kwartaallikse verhoging is. Parsons sê dis belangrik dat die regering ekonomiese momentum op verskeie vlakke aan die gang hou:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sekuriteit verskerp by die Senzo Meyiwa-moordverhoor in die Hooggeregshof in Pretoria. Hofverrigtinge is Dinsdag verdaag nadat die polisie inligting ontvang het dat ‘n groep mense by die verrigtinge is met die uitsluitlike doel om die regter, aanklaer en ondersoekspan te elimineer. Die Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle ondersoek ‘n saak van sameswering om moord te pleeg:
# President Vladimir Putin van Rusland se senior assistent, Yuri Ushakov, sê beraadslaging met Amerika was produktief, maar hulle het nie ʼn kompromie oor die vredesplan vir Oekraïne bereik nie. Gister se ontmoeting in Moskou tussen Putin, die Amerikaanse gesant Steve Witkoff, en president Donald Trump se raadgewer, Jared Kushner, het sowat vyf ure geduur. Ushakov sê die twee partye het nie ʼn ooreenkoms oor belangrike sake bereik nie, wat moontlike grense van territoriale beheer in ʼn vredesooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne insluit. Hy sê daar lê nog baie werk voor.
# Sokker: Banyana Banyana het 2025 op ʼn hoogtepunt afgesluit met ʼn 2-0-sege oor Marokko in hul internasionale, vriendskaplike wedstryd op die Stade D’Agadir. Nonhlanhla Mthandi en Noxolo Cesane se doele in die tweede helfte het die oorwinning vir afrigter Desiree Ellis se span beklink. Die wedstryd is deel van voorbereiding vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi vir vroue wat in Marokko gehou word. Banyana Banyana het hul plek in WAFCON bespreek nadat hulle in Oktober die Demokratiese Republiek die Kongo in die tweede deel van ʼn kwalifiseerder met 1-0 geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9 sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-61 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-en-744 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-224 dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-30-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….