Nuus 08:00
BULLETIN 2 Desember 8 vmm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê daar is geen leierskapstryd in die ANC nie
# Die Parlement gaan vandag stem om die 30-persent matriekslaagsyfer te skrap
# En Eskom sê hy mag sukkel om elektrisiteitstariefverhogings onder 10-persent te hou
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula ontken berigte dat die party se komende 5de Nasionale Algemene Raad in ‘n leierskapstryd kan ontaard. Volgens berigte wil sommige senior ANC-lede hê president Cyril Ramaphosa moet verwyder word. Die Nasionale Algemene Raad wat volgende week in Ekurhuleni vergader, sal vordering assesseer, die organisasie versterk en beleid verfyn. Mbalula sê daar is geen leierskapstryd in die ANC nie en hulle staan saam om Ramaphosa te beskerm:
# Die Parlement sal vandag oor Build One South Africa se mosie stem om die 30-persent-slaagsyfer vir matriekvakke te skrap. Dit volg nadat die Parlement verlede week debat gevoer het oor die mosie om die huidige vereiste 30-persent om matriekvakke te slaag, op te skuif tot ‘n 50-persent. Die debat het die dringende behoefte aan onderwyshervorming in Suid-Afrika uitgelig, maar het ook die wydverspreide misverstande oor die slaagstruktuur van die Nasionale Senior Sertifikaat beklemtoon. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, sê die 30-persent-slaagsyfer verskans middelmatigheid en lae verwagtinge:
# Eskom waarsku die uitgestelde uitspraak oor sy 54-miljard-rand skikking met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, kan verhoed dat hy ná die 2028-boekjaar stygings in elektrisiteitspryse onder 10-persent hou. Die skikking sal ʼn bykomende toelaatbare inkomste van 12-miljard-rand verseker wat tot standaardtariefverhogings van 8,76-persent en 8,83-persent kan lei. AfriForum en die Suid-Afrikaanse Mineraleraad betwis aspekte van die voorgestelde skikking.
# Die Withuis het admiraal Frank Bradley verdedig wat volgens berigte in September opdrag gegee het vir ʼn opvolgaanval op ʼn vermeende Venezolaanse dwelmboot waarin oorlewendes ook dood is. Die minister van Verdediging, Pete Hegseth, het onder skoot gekom nadat hy volgens berigte opdrag gegee het dat almal aan boord uitgewis word. Elf mense is dood en die opvolg-aanval is volgens berigte uitgevoer nadat twee mense die eerste aanval oorleef het. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê die tweede aanval was wettig en uit selfverdediging:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het sy finale groep aangekondig vir die Afrikabekertoernooi in Marokko. Die opkomende sterre, Shandre Campbell, en die middelveldspeler wat in Engeland gebaseer is, Tylon Smith, is opgeroep vir hul eerste groot internasionale toernooi. Burnley se doelskopper, Lyle Foster, is die enigste speler van ʼn klub onder die topvyf Europese ligas wat ingesluit is. Themba Zwane van Mamelodi Sundowns wat onlangs van ʼn besering herstel het, is nie in die groep nie. Bafana is in Groep B saam met Angola, Zimbabwe en Egipte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10 sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-59 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-358 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223 dollar, 94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-7-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….