Nuus 08:00
BULLETIN 1 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Franse ambassade ontken dat polisiebeamptes toegang geweier is om Nathi Mthethwa se dood te ondersoek
# Minister Creecy sê hul feestydveldtog sal op hoërisikogedrag fokus
# En die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê daar word vordering gemaak met Oekraïnse vredesgesprekke
# Die Franse ambassade in Suid-Afrika het mediaberigte ontken dat ‘n span van vyf top Suid-Afrikaanse polisiespeurders, wat sou help met die ondersoek na die dood van ambassadeur Nathi Mthethwa, verhoed is om Parys te besoek. Die 58-jarige Mthethwa is in September oorlede. Volgens die Sunday Times is die vyf senior speurders toegang tot Frankryk geweier. Die Franse ambassade sê slegs een polisiebeampte het ‘n visumaansoek ingedien wat vinnig toegestaan is. Die ambassade sê die beampte kon na Parys reis en is deur die owerhede verwelkom.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die voorkoming van padongelukke is die gedeelde verantwoordelikheid van bestuurders, voetgangers en passasiers. Sy het die naweek die amptelike 2025/2026 Feestyd-padveiligheidveldtog van stapel gestuur met die tema: Dit begin by my. Suid-Afrika het sy eerste daling in padsterftes in vyf jaar aangeteken met 700 minder sterfgevalle as verlede jaar. Creecy sê die feestyd se padveiligheidsveldtog sluit verskerpte wetstoepassing in:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê die arrestasie van ‘n werknemer van die Tembisa-hospitaal herbevestig hul verbintenis tot verantwoordbaarheid en die bestryding van korrupsie by openbare instellings. Zacharia Tshisele is verlede week in hegtenis geneem vir sy beweerde rol in onreëlmatige kontrakuitbetalings. Hy het 13-miljoen-rand terugbetaal, wat slegs ‘n gedeelte is van die omkoopgeld wat hy na bewering van diensverskaffers ontvang het. Die SOE sê hulle het ten minste 15 huidige en voormalige amptenare geïdentifiseer wat betrokke is by aktiwiteite soos korrupsie, geldwassery en tenders wat verbind word met diensverskaffers.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê vordering is gemaak in onderhandelinge met Oekraïne, maar waarsku nog werk is nodig. Amerikaanse en Oekraïnse amptenare het gister sowat vier ure lank in Florida beraadslaag om besonderhede uit te klaar oor Washington se voorgestelde vredesplan van 28 punte om die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te beëindig. Rubio sê hulle wil nie net die oorlog beëindig nie, maar seker maak Oekraïne beleef langtermyn-voorspoed:
# Motorsport: Red Bull-renjaer Max Verstappen het die Katar Grand Prix gewen en seker gemaak die bestuurderskampioenskap word die naweek in die seisoen se laaste wedren in Abu Dhabi bepaal. McLaren se alternatiewe strategie het hom duur te staan gekom met Oscar Piastri wat tweede was en die kampioenskapsleier, Lando Norris, vierde. Carlos Sainz van Williams het derde geëindig. Verstappen, wat sy vyfde agtereenvolgende titel nastreef, is nou 12 punte agter Norris, met Piastri 16 punte agter. Verstappen sê hulle strategie was perfek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-471-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-235-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….