Nuus 08:00
BULLETIN 28 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Instituut sê ras bepaal nie meer Suid-Afrikaanse kiesers nie
# Die Nasionale Vergadering beveel Dinkie Dube aan as nuwe adjunk- Openbare Beskermer
# En een van die Amerikaanse Nasionale Wag-lede sterf na die skietvoorval in Washington
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê ras is nie meer ‘n aanduiding van kiesers se waardes of voorkeure nie. Dis die belangrike gevolgtrekking van die derde en laaste verslag oor die instituut se jongste peiling. Altesaam 76-persent Suid-Afrikaners wat aan die meningspeiling deelgeneem het, sê politici gebruik rassisme en kolonialisme as verskoning vir hul mislukkings. Hermann Pretorius van die instituut sê die ANC se voortgesette vertroue op rasgebaseerde kwotas, verkrygingsteikens en onteieningsbeleide is nie net teen die wil van minderhede nie, maar die meerderheid in hul eie geledere is ook daarteen gekant.
# Die Nasionale Vergadering het die komitee vir justisie en grondwetlike ontwikkeling se aanbeveling dat advokaat Dinkie Dube as nuwe adjunk- Openbare Beskermer aangestel word, goedgekeur. Sy sal die amp beklee wat vakant gelaat is toe advokaat Kholeka Gcaleka twee jaar gelede as Openbare Beskermer aangestel is. Die Nasionale Vergadering se aanbeveling word nou na president Cyril Ramaphosa gestuur. Thokozani Langa van die IVP het sy vertroue in Dube uitgespreek:
# Die vakbond Numsa veroordeel die Bombela-bedryfsmaatskappy wat die Gautrein bestuur, wat na bewering werkers se salarisse onwettig uit hul rekeninge onttrek het. Gautrein het einde Oktober sommige werkers per abuis dubbel betaal. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die bestuur het werkers beveel om die geld onmiddellik terug te betaal. Sy sê sommige werkers kon nie, want hulle het reeds die geld bestee:
# Sarah Beckstrom, een van die twee lede van Amerika se Nasionale Wag wat Woensdag naby die Withuis in Washington geskiet is, is dood. Die twee was aan diens toe ʼn verdagte hulle nader en op hulle losbrand. Beckstrom is in die hospitaal dood terwyl die ander lid, Andrew Wolfe, steeds om sy lewe veg. Die verdagte is geïdentifiseer as ʼn Afgaanse burger, Rahmanullah Lakanwal. Amerika se advokaat vir Distrik Columbia, Jeanine Pirro, sê die Departement van Justisie sal aandring op die doodstraf:
# Sokker: Twee Suid-Afrikaners sal die wedstryde tydens die Afrikanasiesbeker hanteer, wat op die 21 Desember in Marokko begin. Abongile Tom en Zakhele Siwela is ingesluit op die finale lys van 28 skeidsregters en 31 lynregters, saam met 14 video-wedstrydbeamptes. Siwela is ‘n veteraan met sewe Afcon-toernooie op sy kerfstok en was ook tydens die vorige twee Wêreldbeker-toernooie ‘n skeidsregter. Tom het tydens die vorige Afcon-toernooi wedstryde hanteer en was ook skeidsregter vir die onlangse Wêreldbeker-kwalifiseerder tussen Gaboen en Nigerië in Rabat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-173-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-187-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….