Nuus 08:00
BULLETIN 27 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Trump se verklaring oor Suid-Afrika se G20-deelname is betreurenswaardig
# Judges Matter eis die skorsing van regter Portia Phahlane
# En die dodetal in die Hong Kong-brand styg tot 44 met 279 wat steeds vermis word
# President Cyril Ramaphosa sê hy neem kennis van president Donald Trump van Amerika se verklaring oor Suid-Afrika se deelname aan die G20-leiersberaad in 2026. Trump sê Suid-Afrika sal nie na die beraad in Florida genooi word nie omdat die land weier om die menseregteskendings teen Afrikaners te erken of aan te spreek. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê as stigterslid het Suid-Afrika altyd die gees van konsensus, samewerking en vennootskap wat die G20 definieer, waardeer:
# Die EFF sê klein besighede staar ‘n ernstige krisis in die gesig. ‘n Inligtingsessie aan die parlement se portefeuljekomitee oor Kleinsake-ontwikkeling het aan die lig gebring dat een uit elke tien klein besighede die risiko loop om onmiddellik te sluit weens uitdagings soos ‘n gebrek aan finansiering, logistieke probleme en burokrasie. Babalwa Mathulelwa van die EFF waarsku dat baie klein besighede ook nie befondsing kry nie. Mathulelwa sê dringende optrede is nodig om hierdie kritieke bydraers tot die ekonomie te ondersteun:
# Judges Matter sê die Gautengse Hooggeregshof-regter wat van korrupsie en geldwassery beskuldig word, moet onmiddellik geskors word. Regter Portia Phahlane, haar seun Kagiso, die International Pentecostal Holiness Church se leier Michael Sandlana, en sakeman Vusi Ndala is Dinsdagaand gearresteer. Regter Phahlane het volgens berigte meer as twee-miljoen-rand aan omkoopgeld ontvang om ten gunste van een faksie in die kerk se opvolgstryd te beslis. Alison Tilley van Judges Matter sê die saak gaan nou reguit na die Regterlike Dienskommissie:
# Die dodetal na ‘n massiewe brand wat talle hoë woonstelgeboue in Hongkong se Tai Po-distrik verswelg het, het tot 44 gestyg met 45 slagoffers in ʼn bedenklike toestand. Altesaam 279 mense word nog vermis. Owerhede sê drie mans, twee direkteure en ʼn ingenieursraadgewer van ʼn konstruksiemaatskappy, is op aanklagte van strafbare manslag gearresteer. Die adjunkdirekteur van Hongkong se brandweer, Derek Armstrong Chan, sê hulle sukkel om die brand onder beheer te bring:
# Motorsport: Die Formule Een-ontwerplegende, Adrian Newey, sal van 2026 af Aston Martin se nuwe spanhoof wees. Hy sal hierdie rol vervul, sowel as dié van besturende tegniese vennoot wat hy sedert Maart verlede jaar beklee ná 18 jaar by Red Bull. Andy Cowell, wat die afgelope jaar die span- en uitvoerende hoof was, is die nuwe hoof-strategiebeampte. Aston Martin sê die verandering aan die leierskapstruktuur is gemik op Newey en Cowell se individuele sterkpunte en kundigheid om organisatoriese doeltreffendheid te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-149-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….