Nuus 08:00
BULLETIN 19 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party is bemoedig deur die matriekslaagsyfer maar vra dat onderwys hersien word
# RISE Mzansi sê meer moet gedoen word om leerders vir ‘n toekoms in die ekonomie voor te berei
# En, die Amerikaanse kongres weer ‘n gedeeltelike sluiting van die regering af
# Die GOOD Party sê die hoër matriekslaagsyfer en die feit dat alle provinsies verbeter het, is bemoedigend. Die 2023-matriekklas se slaagsyfer is 82,9-persent, wat twee persentasiepunte meer is as die 80,1-persent in 2022. Die GOOD Party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die grootste bedreiging vir menslike en ekonomiese vordering is ‘n onderwysstelsel wat jongmense nie voorberei vir die werksomgewing van die toekoms nie:
RISE Mzansi het ook die 2023-matriekklas gelukgewens, maar twyfel of die onderwysstelsel leerders behoorlik voorberei vir die moderne, kennis-gedrewe ekonomie. Lawrence Manaka van RISE Mzansi sê daar is ʼn geleidelike verbetering in die aantal leerders wat 50-persent en meer kry vir wiskunde en wetenskap, maar dis nie goed genoeg nie. Hy sê die onderwysstelsel moet leerders vir die toekoms gereed maak deur in wiskunde en wetenskap te belê:
# Die kantoor van Gauteng se premier Panyaza Lesufi het bewerings ontken dat die Usindiso-ondersoekkommissie ʼn bedrogspul is. Die kommissie ondersoek die oorsaak en aanspreeklikheid van die dodelike brand in die gekaapte Usindiso-gebou in Johannesburg in Augustus verlede jaar. Die Marshalltown Fire Justice Campaign, wat die slagoffers van die brand verteenwoordig, sê hierdie soort kommissies gaan daaroor om diegene wat verantwoordelik is vir die growwe, misdadige verontagsaming van die behuisingskrisis te beskerm. Die premier se kantoor sê die doel van die ondersoek is juis om mislukkings te identifiseer en te hanteer.
# Die Amerikaanse kongres het ʼn gedeeltelike sluiting van die regering naelskraaps vermy deur ʼn korttermyn-bestedingswetsontwerp te aanvaar. Die wetgewing is goedgekeur nadat 107 Republikeine en 207 Demokrate dit ondersteun het. Dit is die derde tussentydse bestedingsmaatreël van hierdie fiskale jaar en sal die regering se befondsing tot vroeg in Maart op die huidige vlakke hou. President Joe Biden moet nou die befondsingswetgewing onderteken. Die meerderheidsleier in die senaat, die Demokraat Chuck Schumer, sê die wetsontwerp is ʼn noodsaaklike maatreël wat wetgewers meer tyd sal gee om te onderhandel oor ʼn begrotingswetsontwerp vir ʼn hele jaar.
# Gholf: Die voormalige wenner Li Haotong het vyf onder baansyfer 67 in die eerste ronde van die Dubai Desert Classic aangeteken en is saam met nog drie spelers gesamentlik eerste. Hulle is Rasmus Højgaard van Denemarke, die Amerikaner Cameron Young en Andy Sullivan van Engeland. Engeland se Richard Mansell is saam met vier ander in die tweede plek met vier onder baansyfer. Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy pogings om die titel vir ‘n rekord vierde keer in te palm met 71 afgeskop en is vier houe agter die voorlopers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-948-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….