Nuus 08:00
BULLETIN 19 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op maatskappye om deel te wees van ‘n nuwe ekonomiese rigting
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers keur ‘n wetsontwerp goed om die Epstein-lêers vry te stel
# En rugby: Samoa kwalifiseer vir die 2027 Wêreldbeker
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaanse uitvoerende beamptes speel ‘n belangrike rol in pogings om inklusiewe groei in Afrika en die wêreld te bevorder. Hy het gisteraand in Sandton, Johannesburg, as deel van die G20-uitreikprogram Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde tydens ʼn sake-ete toegespreek. Ramaphosa sê die instelling van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied sal marktoegang vir Suid-Afrikaanse goedere, dienste en beleggings hervorm. Hy sê dit sal help om streek-integrasie en waardekettings oor grense te bevorder:
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê soewereine welvaartsfondse het die potensiaal om Afrika se infrastruktuur-finansieringsgaping te help oorbrug. Afrikalande suid van die Sahara ken jaarliks slegs 3,5-persent van hul bruto binnelandse produk toe aan infrastruktuur. Masondo sê tradisionele finansieringsmeganismes soos nasionale begrotings, ontwikkelingsfinansiering of konsessie-lenings op hul eie is onvoldoende. Hy sê dis te verstane dat Afrikalande soewereine welvaartsfondse ondersoek of instel om belegging te bevorder, fiskale stelsels te stabiliseer en globale vennootskappe te sluit.
# Polisie in Gauteng het ʼn ondersoek begin nadat die skoolhoof en ʼn administratiewe beampte gister by die Inxiweni Primary School in Tembisa, Ekurhuleni, doodgeskiet is. Volgens voorlopige berigte het die voorval plaasgevind terwyl personeellede gereed gemaak het vir ʼn vergadering. Die Gautengse Onderwysdepartement se woordvoerder, Steve Mabona, sê LUR Matome Chiloane is geskok deur die sinnelose en brutale daad by ʼn skool, wat veronderstel is om ʼn veilige hawe vir onderrig en leer te wees:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het met ʼn groot meerderheid gestem dat die Departement van Justisie die lêers oor die seksoortreder en finansier, Jeffrey Epstein, bekendmaak. Die Huis het met 427-1 gestem om die Epstein-deursigtigheidwet te aanvaar, terwyl die Republikein, Clay Higgins, die enigste was wat daarteen gestem het. Intussen het die Senaat ingestem om die wetsontwerp eenparig sonder ʼn amptelike stemming deur te voer. Die minderheidsleier in die Senaat, Chuck Schumer, sê dis tyd dat reg geskied vir Epstein-slagoffers wat hard daarvoor baklei het:
# Rugby: Samoa het gekwalifiseer vir sy tiende Wêreldbeker in Australië in 2027. Dit volg na ʼn gelykop-wedstryd van 13-13 teen België in die laaste wedstryd van die laaste kwalifiseringstoernooi in Dubai. Samoa is die 24ste en laaste span wat sy plek in die wêreld-skouspel bespreek. België het ʼn plek in die Wêreldbeker misgeloop weens ʼn gebrek aan bonuspunte vir drieë. Met sy kwalifisering vir die Wêreldbeker, het Samoa ook sy deelname verseker aan die nuwe Wêreldrugby-nasiesbeker wat volgende jaar afskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-56-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-71-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….