Nuus 08:00
BULLETIN 18 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad neem kennis van die vordering met ekonomiese hervorming
# Die GOOD Party sê Prasa en die Vervoerdepartement moet hulle prioriteite regkry
# En, rampspanne in KwaZulu-Natal is op hoë gereedheid te midde van gure weerstoestande
# Die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad sê daar is steeds aansienlike uitdagings ten spyte van die vordering om fiskale, maatskaplike en omgewingsvriendelike ekonomiese beleide daar te stel. President Cyril Ramaphosa het gister ‘n raadsvergadering gelei waar huidige ekonomiese ontwikkelings en maatreëls om ekonomiese groei en werkskepping te ondersteun, bespreek is. Die raadslede het vordering met ekonomiese hervorming in onder andere die energie-, vervoer- en telekommunikasiesektore geloof. Die presidensie sê ontledings en aanbevelings van die raad sal steeds ʼn groot rol speel in die regering se beleidsvorming.
# Die GOOD Party sê die stille kansellasie van die langafstand-passasierstreindiens tussen Johannesburg en Kaapstad en die treindiens tussen Durban en Johannesburg wat tot een keer per maand verminder is, moet ʼn wekroep wees. Die diens is verlede maand opgeskort omdat betroubare lokomotiewe nie beskikbaar was nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Prasa en die Departement van Vervoer moet hulle prioriteite regkry omdat ʼn betroubare en veilige spoor-pendeldiens die ruggraat van enige land se openbare vervoernetwerk is:
# KwaZulu-Natal se premier Nomusa Dube-Ncube het die gesamentlike pogings van die ramp- en vinnige-reaksiespanne geloof terwyl gure weerstoestande voortduur. Die dodetal in oorstromings in die provinsie het tot 13 gestyg terwyl paaie, elektrisiteits- en ander belangrike infrastruktuur vernietig is. Die provinsiale regering se woordvoerder, Bongi Gwala, sê 59 skole is deur vloedwater beskadig waarvan 28 in die uMkhanyakude-munisipaliteit is:
# Rusland en Niger het ingestem tot militêre samewerking. Die Russiese adjunkministers van Verdediging, Yunus-Bek Yevkurov en Alexander Fomin, het Niger se minister van Verdediging, Salifu Modi, ontmoet en erkenning gegee aan die belangrikheid om verdedigingsbande te versterk. Rusland se ministerie van Verdediging wil gesamentlike optrede verstewig om die streek bestendig te maak, maar het nie spesifieke planne bekend gemaak nie. Niger se militêre raad is aan bewind sedert Julie verlede jaar en daar is kommer omdat hy homself van Westerse bondgenote distansieer en moontlik ‘n nuwe Russiese vastrapplek bied.
# Gholf: Die viermalige major-wenner Rory McIlroy sê hy het ná sy tweede plek in die Dubai-uitnodigingstoernooi verlede week ʼn kans om die Dubai Desert Classic wat vandag begin, te wen. Die wêreld se nommer twee was verlede week by die uitnodigingstoernooi op pad na ʼn oorwinning toe sy een hou oor baansyfer by die laaste putjie en Tommy Fleetwood se twee agtereenvolgende voëltjies hom gekelder het. McIlroy, wat mik vir ʼn vierde Dubai Desert Classic-trofee, sê daar is ʼn paar dinge wat hy na verlede week kan verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-546-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-8-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….