Nuus 08:00
BULLETIN 12 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Suid-Afrika sal nie deur Donald Trump voorgeskryf word nie
# Die GOOD-party waarsku armoede en honger sal voortduur
# En die VN waarsku teen ‘n hernude volskaalse konflik in Suid-Soedan
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula het herhaal Suid-Afrika se beleide sal nie deur president Donald Trump van Amerika voorgeskryf word nie omdat die land ‘n soewereine staat en nie ʼn diktatorskap is nie. Trump hou volgens berigte vol daar is volksmoord in Suid-Afrika en sê die land moet uit die G20-groep verwyder word. Mbalula het gister na ʼn vergadering van die Nasionale Werkkomitee in Johannesburg aan die media gesê as ANC sal hulle nie bedreig voel deur sanksies nie:
# Die GOOD-party sê terwyl Suid-Afrika se ekonomie beskeie tekens van herstel toon, bly armoede en honger steeds ‘n ernstige bron van kommer. Die party waarsku voor vandag se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, stadige ekonomiese groei en beperkte maatskaplike verligting laat sukkel baie Suid-Afrikaners om voedsel en basiese behoeftes te bekostig. Brett Herron van die GOOD-party doen ‘n beroep op die regering om te fokus op besteding op infrastruktuur, werkgeleenthede en ‘n nasionale voedselprogram vir die kwesbaarstes:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het sy sogenaamde “bomeenheid”-span geprys en gesê dit het die metro se vinnigste werkende meganisme geword, wat die tyd tussen voorvalrapportering en finale oplossing verminder. Die “bomeenheid” is bekendgestel as deel van ‘n omkeerstrategie, wat fokus op kwessies soos grondbesetting, onwettige migrante en slaggate. Morero sê sedert Junie het die span ‘n oplossingskoers van 86-persent oor 42 groot aanmeldings behaal en 724 diensgevalle afgehandel. Hy sê die span se resultate is in alle streke sigbaar.
# Die Verenigde Nasies waarsku Suid-Soedan toon alle tekens dat volskaalse geweld weer binnekort kan uitbreek. Die Hersiene Vredesooreenkoms is in 2018 onderteken, wat die vyf jaar lange burgeroorlog beëindig het. Toenemende skendings van die skietstilstand die afgelope jaar laat die land egter op die punt van hernude konflik. Die VN Vroue se uitvoerende direkteur, Sima Bahous, sê Suid-Soedan het van die hoogste geslagsgeweldsyfers in die streek, met ʼn geraamde 2,7-miljoen mense wat in gevaar is:
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het sewe veranderinge aangebring aan die span vir Saterdag se kragmeting teen Nieu-Seeland op Twickenham. Kaptein Maro Itoje, George Ford, Jamie George, Freddie Steward, Tom Roebuck, Fin Baxter en Sam Underhill is almal terug in die opdrafspan nadat hulle verlede naweek op die kantlyn was in die 38-18-sege teen Fidji. Borthwick het besluit op ʼn 6-2-verdeling op die bank, met Chandler Cunningham-South, Tom Curry en Henry Pollock onder die versterkings. Ollie Chessum en Tommy Freeman is uit weens beserings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-265-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….