Nuus 08:00
BULLETIN 8 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen en president Ramaphosa bespreek moontlike veranderinge aan die DA se kabinetsposte
# Geen Amerikaanse amptenare gaan die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon nie
# En krieket, die eendagreeks tussen die Proteas en Pakistan word vandag beslis
# Die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya het bevestig president Cyril Ramaphosa en DA-leier John Steenhuisen was in gesprek oor moontlike veranderinge aan die DA se kabinetsposte. Volgens News24 vra Steenhuisen dat die minister van Omgewing, Bosbou en Visserye, Dion George, deur partywoordvoerder Willie Aucamp vervang word. Steenhuisen wil ook hê DA-LP Alex Abrahams moet as nuwe adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging aangestel word, in die plek van Andrew Whitfield wat vroeër vanjaar deur Ramaphosa afgedank is. Magwenya wou nie verder kommentaar lewer nie en sê ‘n aankondiging sal gemaak word wanneer die tyd ryp is.
# President Donald Trump sê geen Amerikaanse amptenare gaan die Groep van 20-beraad in Suid-Afrika later vandeesmaand bywoon nie, met verwysing na die land se behandeling van wit boere. Trump het op sy Truth sosiale netwerk gesê dis ‘n totale skande dat die G20 in Suid-Afrika gehou word. Die Trump-administrasie beskuldig die Suid-Afrikaanse regering al lank van diskriminasie teen sy wit minderheid, as gevolg van beweerde grondbesettings en geweld, wat deur die Suid-Afrikaanse regering ontken word. Volgens Reuters sal visepresident JD Vance nie langer die beraad bywoon nie.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa het ‘n driejaar-loonooreenkoms vir alle werkers in motorbandvervaardiging gefinaliseer, wat van 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2028 van krag is. Werkers wat per uur betaal word in grade 1 tot 7 sal jaarlikse verhogings kry. Werkers wat minder as die maksimum betaling verdien sal bykomende jaarlikse verhogings ontvang. Phakamile Hlubi-Majola van Numsa sê ‘n bydrae van tien-sent per uur tot die bedryfsbehuisingsfonds van werkgewers en werknemers is ook beding:
# Sasol het beduidende vordering aangekondig in die ontwikkeling van ‘n metaanrykgas-oplossing, MRG, wat gemik is om kontinuïteit van gasvoorsiening aan die Suid-Afrikaanse mark ná Junie 2028 te verseker. Namate aardgasproduksie uit Mosambiek afneem, het Sasol proaktief alternatiewe oplossings ondersoek om die verwagte voorsieningsgaping te oorbrug. Sasol sal van Julie 2028 tot Junie 2030 MRG vanaf sy Secunda-aanlegte lewer. Hy voeg by die inisiatief deel is van Sasol se breër strategie om die mark vir gas te beskerm en ‘n gladde oorgang na vloeibare aardgas as ‘n langtermynoplossing moontlik te maak.
# Krieket: Die eendagreeks tussen Suid-Afrika en Pakistan word vandag in die laaste wedstryd van die toer in Faisalabad beslis. Die gashere het Dinsdag se eerste ontmoeting met twee paaltjies op die tweede laaste bal gewen. Donderdag het die Proteas egter die bordjies verhang met ‘n oortuigende oorwinning van agt paaltjies in die tweede wedstryd, aangehelp deur aanvangskolwer Quinton de Kock se onoorwonne 123, Tony de Zorzi se onoorwonne 76 en Lhuan-dre Pretorius se 46. Nandré Burger het vier paaltjies geneem. Pakistan het die T20-reeks twee-een gewen nadat die toetsreeks van twee wedstryde gelykop geëindig het.
# En ten slotte, die Wes-Kaap het die Mount David Natuurreservaat as ‘n agthonderd-hektaar-reservaat vir bedreigde ekosisteme en bedreigde spesies verklaar. Die reservaat, naby Hermanus in die Overberg, was voorheen bekend as Diepgat en is oor 17 jaar deur Antony van Hoogstraten herbou, met landbougrond wat in vleilande en ongerepte fynbos omskep is. Luk Folb van CapeNature sê krities-bedreigde plante en die Maanlig-bergpaddatjie floreer hier. CapeNature, Bionerds en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe het die beskerming daarvan bevorder en bygedra tot die provinsie se groeiende netwerk van biodiversiteitsryke reservate:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….