Nuus 08:00
BULLETIN 7 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oekraïnse ambassade is nie bewus van die Suid-Afrikaanse mans wat in Donbas vasgekeer is nie
# Die voormalige onderwyser en vermeende pedofiel, Iain Wares, word vandag kruisondervra
# En die Trump-administrasie word beveel om voedselkoepons vir November ten volle te befonds
# Die Oekraïnse ambassade in Suid-Afrika sê hy ondersoek berigte dat 17 Suid-Afrikaanse mans in Oekraïne se Donbas-streek vasgekeer is. Die mans van tussen 20 en 39 jaar oud is glo met lonende kontrakte gelok om by huursoldaatmagte in die Oekraïne/Rusland-konflik aan te sluit. Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika, Olexander Scherba, het aan die SABC gesê hulle sal nooit iemand aanmoedig om na die gevegsone te gaan nie:
# AfriForum sê ‘n nuwe verslag deur die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake bevestig wydverspreide ineenstorting van munisipale regering regoor die land. Die prestasie-oorsig van 2023 tot 2024 toon dat baie munisipaliteite die huidige finansiële jaar betree het met onbefondsde begrotings, stygende skuld aan Eskom en waterrade, en gebrekkige infrastruktuur. Lambert de Klerk van AfriForum sê inwoners het te kampe met onbetroubare watervoorsiening, rioolstortings en verbrokkelende paaie namate politieke kaping en wanbestuur verdiep:
# Die gewese onderwyser en vermeende pedofiel, Iain Wares, sal vandag in die Wynberg-landdroshof in Kaapstad ondervra word. Dit hou verband met die voortgesette saak oor die seksuele misbruik van ‘n leerder by Rondebosch Preparatory School in die 1980’s. In Simonstad is daar ook ʼn uitleweringsproses na die Verenigde Koninkryk aan die gang waar die 86-jarige Wares gesoek word op meer as 90 aanklagte, insluitend verkragting en seksuele aanranding in die tydperk tussen 1968 en 1979 op minstens 65 seuns by spogskole in Skotland.
# ʼn Amerikaanse federale regter in Rhode Island het president Donald Trump se administrasie beveel om teen vandag geld te vind om die Aanvullende Voedingshulpprogram, ook bekend as SNAP, vir November te befonds. Dit volg nadat die Departement van Landbou die ongewone stap gedoen het om voordele vir hierdie maand op te skort en aanvoer dat die program weens die regeringsafsluiting nie fondse het nie. Meer as 42-miljoen Amerikaners ontvang SNAP-voordele. Visepresident JD Vance sê die uitspraak is absurd:
# Sokker: Suid-Afrika en Katar se tweede wedstryd in die Onder-17-wêreldbeker in Doha het met een elk gelykop geëindig. Yazan Mohamed het die gashere laat voorloop. Die speler van die wedstryd, Emile Witbooi, het die gelykmaker in die 16de minuut aangeteken om Suid-Afrika se vordering na die uitkloprondes moontlik te hou. Amajimbos is nou met vier punte tweede in Groep A ná hul oorwinning teen Bolivia. Drie spanne het hul plek in die uitkloprondes verseker: Argentinië, Italië en Portugal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-149-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-991-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….