Nuus 08:00
BULLETIN 17 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie verbied volgens berigte Jacob Zuma om weens sy misdaadrekord aan verkiesings deel te neem
# Die African Transformation Movement is bekommerd oor die administratiewe verval in die Departement van Minerale Bronne
# En, Donald Trump se prokureurs voer aan E Jean Carroll verdien nie vergoeding nie
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het volgens berigte gesê oudpresident Jacob Zuma kan weens sy misdaadrekord nie vir president staan nie. Zuma is die openbare gesig van die onlangs gestigte politieke party wat na die ANC se gewapende vleuel, uMkhonto weSizwe, vernoem is. Volgens die Daily News sê die OVK Artikel 47 E van die Grondwet verbied enige persoon wat skuldig bevind is en tronkstraf van langer as 12 maande sonder keuse van ‘n boete opgelê is, om ʼn openbare amp te beklee. Zuma is skuldig bevind en tot 15 maande tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn dagvaarding geïgnoreer het.
# Die African Transformation Movement sê hy is bekommerd oor die vernietigende gevolge van die administratiewe ineenstorting in die Departement van Minerale Bronne en Energie. Die departement het misluk om twee-duisend-525 aansoeke vir mynlisensies af te handel wat sedert die begin van die 2023/2024-boekjaar ontvang is. Daar is ook toenemend oproepe dat ambag-mynlisensies uitgereik word aan Suid-Afrikaners wat in myngemeenskappe woon. ATM se woordvoerder, Zama Tshona, sê hulle is veral ontsteld oor die uitwerking wat hierdie administratiewe verval op die land se werkloosheidskrisis onder die jeug kan hê:
# Vier mans wat aangekla word van gruweldade gedurende die apartheid-era verskyn môre in die Landdroshof op Pongola in KwaZulu-Natal. Die Nasionale Vervolgingsgesag het Gerhardus Schoon, Paul Jacobus van Dyk, Frederick Pienaar, en Douw Gerbrandt Willemse verlede week aangekla van die ontvoering en moord op die politieke aktivis Jameson Mngomezulu in 1985. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het vroeër nie amnestie aan hulle toegestaan nie en hulle staan nou tereg. Die woordvoerder van die NVG, Natasha Ramkisson-Kara, sê kwessies ten opsigte van regsverteenwoordiging sal in die komende verrigtinge uitgestryk word:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika se prokureur, Alina Habba, het aan ʼn New Yorkse hof gesê rubriekskrywer E Jean Carroll verdien nie skadevergoeding nie omdat haar beskuldiging van seksuele aanranding haar beroemd gemaak het. Trump is voorheen aanspreeklik bevind vir die seksuele aanranding van Carroll in die 1990’s, en sy soek nou skadevergoeding vir lasterlike aanmerkings wat hy tydens sy presidentskap oor haar gemaak het. Carroll se prokureur, Shawn Crowley, het aan die hof gesê Trump het sy platform gebruik om haar kliënt se belaster en verneder, en veroorsaak dat sy elke dag in vrees lewe:
# Krieket: Die 22-jarige Jordan Hermann het ʼn skitterende honderdtal behaal om die Sunrisers Eastern Cape tot ʼn sege van vier lopies oor MI Cape Town te lei in hulle SA20-kragmeting op Nuweland. Hermann se onoorwonne 106 van 62 balle het die Sunrisers gehelp om 202 vir twee op die telbord te plaas. Die tuisspan was daarna goed op pad na ‘n oorwinning met ʼn aanvangsvennootskap van 108 tussen Ryan Rickelton en Rassie van der Dussen. Ottneil Baartman het egter vinnig drie paaltjies platgetrek en die gashere was op 198 vir vyf almal uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-00-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-816-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….