Nuus 08:00
BULLETIN 3 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki waarsku oor teen-revolusionêre magte binne die ANC
# Hamas oorhandig die oorskot van nog drie gyselaars
# En rugby: Asenathi Ntlabakanye vervang die beseerde Ox Nché in die Bok-groep
# Oudpresident Thabo Mbeki waarsku daar is teenrewolusionêre magte in die ANC en dat faksievorming en loopbaangerigtheid onder lede die grootste bedreiging vir die party se oorlewing is. Hy het by die ANC-veteraneliga se Politieke Skool in Gqeberha gepraat waar dalende kiesersteun, interne faksies en die gehalte van die party se leierskap bespreek is. Mbeki sê die party kan nie Suid-Afrika se probleme oplos as hy homself nie vernuwe en etiese leierskap herstel nie. Hy sê die verandering moet op tak-vlak begin.
# Die voorsitter van die Nasionale Finansiële Studentehulpskema, doktor Karen Stander, het met onmiddellike ingang bedank. Stander sê in haar bedankingsbrief aan die minister van hoër onderwys, Buti Manamela, die omgewing waarin die raad funksioneer, het toenemend toksies geraak met gereelde afknouery, intimidasie, rassisme en vyandigheid. Sy sê dié situasie het dit vir haar onmoontlik gemaak om haar pligte doeltreffend en met ‘n skoon gewete uit te voer. Stander sê haar bedanking is nie ‘n optrede van verset nie, maar een van gewete.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het ‘n beroep op die polisie gedoen om die mense wat verantwoordelik was vir die noodlottige verbyry-skietery in Reiger Park, Ekurhuleni, vas te trek. Ses mense is dood en nog drie is gewond toe mense in twee Polo-motors Saterdagaand op hulle losgebrand het. ‘n Gespesialiseerde span speurders ondersoek die skietery. Lesufi het Sondag die inwoners van Reiger Park toegespreek en bewerings veroordeel dat sommige polisiebeamptes met misdadigers saamwerk:
# Israel se weermag sê hy het die liggame van nog drie persone ontvang wat volgens Hamas dié van gyselaars is wat in Gaza aangehou was. Volgens berigte is een van die liggame dié van Omer Neutra, wat dubbele burgerskap van Israel en Amerika het. Indien die uitkenproses bevestig die liggame is wel dié van gyselaars, beteken dit daar is nog agt liggame in Gaza. Israel beskuldig Hamas dat hy die oorskot te stadig terugstuur, terwyl die militante groep sê hy moet die liggame onder puin in die gebied uithaal.
# Rugby: Die Springbok-stut Ox Nché is ná ‘n besering vir res van die jaareindtoer na Europa op die kantlyn, terwyl Asenathi Ntlabakanye hom vervang. Nché het Saterdag sy been seergemaak tydens Suid-Afrika se skitterende 61-7-sege oor Japan op die Wembley-stadion in Londen. Ntlabakanye het in Julie die eerste keer vir die Bokke uitgedraf in hul toets teen Italië. Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê Ntlabakanye was op die toer se bystandlys, en is bekend met die span se strukture en stelsels:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-430-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-nege-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….