Nuus 08:00
BULLETIN 1 November 8 am
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê bewerings van ‘n wit volksmoord in Suid-Afrika is ongegrond
# Die DA vra dringende optrede oor die tifusuitbreking in Hammanskraal
# En krieket, 77,6-miljoen-rand is op die spel vir die wenner van die Wêreldbekereindstryd tussen die Proteas en Indië
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê bewerings van ‘n sogenaamde wit volksmoord in Suid-Afrika is ongegrond en polities-gemotiveerd. Dit volg op berigte dat die Trump-administrasie beplan om wit Afrikaners voorkeur te gee vir vlugtelingstatus in Amerika. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê dit stel die land se misdaadprobleem verkeerd voor en ondermyn maatskaplike samehorigheid. Phiri sê die regering is daartoe verbind om alle burgers te beskerm:
# Die DA in Tshwane versoek dringende ingryping na ‘n toename in tifusgevalle in Hammanskraal. Die DA-burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, sê die uitbreking moet versigtig bestuur word om ‘n tragedie te vermy. Brink blameer skoon waterprojekte wat tot stilstand gekom het en swak kommunikasie deur burgemeester Nasiphi Moya vir die krisis wat vererger. Hy doen ‘n beroep op die Stad om watergehalte-toetsresultate vry te stel en te verseker dat higiëniese standaarde vir watertenks gehandhaaf word:
# Die Stad Kaapstad sê die nuwe nasionale vereiste vir voertuigregistrasie en -lisensiëring is uitgestel. Die vereiste, wat vandag in werking moes tree, sou aandring op oorspronklike gesertifiseerde identifikasiedokumente by alle stadsmotor-voertuigregistrasie- en lisensiëringskantore. Die stad se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo, sê die instel daarvan gaan nie soos beplan voort nie:
# Een van Amerika se gewildste reisbestemmings, die Orlando-lughawe, was op die punt om alle landings te kanselleer nadat die sluiting van die regering ‘n geskarrel vir lugverkeersbeheerders veroorsaak het. Inkomende en uitgaande vlugte uit die tuiste van Disney World en Universal Studios is met tot soveel as 90 minute vertraag. Die vlugopsporingswebwerf, FlightAware, sê net op Donderdag is byna ses-duisend vlugte vertraag en een-duisend-100 landwyd gekanselleer. Die sluiting het op 1 Oktober begin en sedertdien werk meer as 13-duisend lugverkeersbeheerders sonder betaling, met van hulle wat ‘n tweede werk moet doen om kop bo water te hou.
# Rugby: ‘n Volgepakte toets-dagboek wag vandag op liefhebbers. Die Springbokke pak Japan net na ses vanaand op die Wembley-stadion in Londen. ‘n Uur vroeër draf Engeland en Australië op die veld op Twickenham, terwyl Skotland en Amerika later op Murrayfield in Edinburgh sal meeding. Ierland en die All Blacks pak mekaar net na tien in Chicago, Amerika. Die aksie begin net na drieuur vanmiddag tussen ‘n Barbarians-span volgepak met Suid-Afrikaners en ‘n All Blacks-vyftiental, ook in Londen.
# En krieket: ‘n Reuse-77,6-miljoen-rand is op die spel vir die wenner van môre se Wêreldbekereindstryd tussen Suid-Afrika en die mede-gasvrou, Indië, in Mumbai. Die verloorspan sal ‘n stewige 38,8-miljoen-rand verdien. Vanjaar se algehele prysgeld van 240,7-miljoen-rand is 297-persent meer as in die vorige toernooi in Nieu-Seeland in 2022. Die president van die Internasionale Krieketraad, Jay Shah, sê die groot verhoging is ‘n bepalende mylpaal in die ontwikkeling van vrouekrieket.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….