Nuus 08:00
BULLETIN 31 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA stel sy vlugtelingplafon op sewe-duisend-500 met ‘n voorkeur vir wit Afrikaners
# Die ANC verwelkom die hofuitspraak wat bevestig dat Hoofman Albert Luthuli deur die apartheidspolisie vermoor is
# En Maimane sê mosies van wantroue moet gereguleer word
# President Donald Trump se administrasie het ‘n aansienlike perk van sewe-duisend-500 aangekondig op die getal vlugtelinge wat jaarliks in Amerika toegelaat gaan word. Wit Afrikaners uit Suid-Afrika en ander slagoffers van onwettige of onregverdige diskriminasie in hul onderskeie lande sal voorkeur kry. Dis ʼn dramatiese besnoeiing van die vorige perk van 125-duisend wat oudpresident Joe Biden vasgestel het, en ʼn rekord-minimum. Die administrasie sê humanitêre kommer regverdig die besluit, of dis andersins in nasionale belang.
# Die ANC sê die uitspraak van die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, wat bevestig Hoofman Albert Luthuli is deur die apartheidspolisie vermoor, herstel waarheid, waardigheid en geregtigheid aan sy nalatenskap en Suid-Afrika se geskiedenis. Die hof het die apartheidsera-ondersoek verwerp wat valslik beweer het Luthuli is dood nadat hy in 1967 deur ‘n trein getref is. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu het die Luthuli-familie, menseregte-prokureurs en historici geprys vir die versekering dat die waarheid uiteindelik onthul is:
# Die vakbond Numsa ruk vandag op na die kantoor van die Nasionale Tesourie in Pretoria. Die vakbond eis dat die regering ophou sake doen met sekuriteitsmaatskappye wat nie kollektiewe ooreenkomste nakom nie. Numsa se nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hierdie maatskappye sluit Modise Security, Mjayeli Security, Kya Guard Security en Urban Ithuba Security in:
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sê mosies van wantroue word in die Stad Johannesburg misbruik omdat dit nie gereguleer word nie. Burgemeester Dada Morero se vennote in die regering van plaaslike eenheid oorweeg ʼn mosie van wantroue in hom. Maimane sê daar moet ʼn wet op plaaslike regeringsvlak wees wat bepaal politieke partye mag een keer per jaar ʼn mosie van wantroue indien, soortgelyk aan dié in die Nasionale Vergadering.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, is die eerste keer deur na die Parys Meesters se kwarteindronde. Die Italianer het Francisco Cerundolo van Argentinië geklop en hoop om weer nommer een in die wêreld te word. Sinner kom teen Ben Shelton te staan nadat die Amerikaner met die Rus, Andrey Rublev, afgereken het. Alexander Zverev van Duitsland het sy titel verdedig met ʼn oorwinning oor die Spanjaard, Davidovich Fokina. Daniil Medvedev van Rusland het die Italianer Lorenzo Sonego verslaan om steeds in aanmerking te kom vir die ATP-jaareindtoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-96-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….