Nuus 08:00
BULLETIN 28 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Justisie sê korrupsie het die morele gesag van die staat verswak
# Die adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn
# En Numsa verwelkom die Arbeidshof se besluit om die afgedankte werkers by ArcelorMittal weer in diens te neem
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die stryd teen korrupsie en die beskerming van fluitjieblasers is ‘n belangrike hoeksteen van die staat se hernuwing. Hy het gister Public Interest South Africa se jaarlikse Fluitjieblaser-beraad in Johannesburg toegespreek. Nel sê korrupsie het die staat se morele gesag verswak en openbare vertroue in die instellings wat hulle moet dien, vernietig. Hy sê wanneer fluitjieblasers stilgemaak of onbeskermd gelaat word, kom landsburgers tot die gevolgtrekking dat die waarheid self in gevaar is:
# Die adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, is die sesde getuie wat vandag en môre voor die parlementêre ad hoc-komitee verskyn. Die komitee ondersoek die waarheid agter bewerings van misdaadinsypeling en politieke inmengery in die strafregstelsel. Mathale het in 2019 adjunkminister geword en saam met Polisieminister Senzo Mchunu en oudminister Bheki Cele gewerk wat albei voor die komitee verskyn het. Mathale sal na verwagting onder andere lig werp op die werking en ontbinding van die politieke taakspan.
# Die metaalwerkersvakbond Numsa verwelkom die Arbeidshof se beslissing dat alle werkers in Newcastle en Vereeniging wat ArcelorMittal Suid-Afrika vroeër die maand afgelê het, weer aangestel word. AMSA het die onderhandelingsproses oor afleggings aan die begin van Maart eensydig gestaak en sonder beraadslaging voortgegaan met afdankings. Numsa-woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê dis ʼn oorwinning vir die vakbond want dit bied ʼn geleentheid om ander opsies as afleggings te oorweeg:
# Jamaika se eerste minister, Andrew Holness, waarsku dat Orkaan Melissa, wat die eiland vandag sal bereik, ʼn aansienlike uitwerking op die streek kan hê. Die buitengewone Kategorie 5-storm bereik winde van byna 260 kilometer per uur, wat dit vanjaar die sterkste storm op aarde maak. Minstens drie mense is in Haïti dood terwyl Melissa stortreën op die eiland Hispaniola veroorsaak het. Holness sê die regering het omvattende ramp noodmaatreëls getref:
# Rugby: Japan se afrigter, Eddie Jones, glo dis nie onmoontlik om die Springbokke Saterdag te klop nie. Die Japannese het die afgelope naweek sake moeilik gemaak vir die Wallabies in Tokio. Australië het met 19-15 gewen na ‘n rustyd-voorsprong van 14-3. Jones het verwys na Japan se legendariese oorwinning oor Suid-Afrika in Brighton, Engeland, tydens die 2015 Wêreldbekertoernooi. Hy sê die Bokke maak foute wanneer hulle onder druk is. Afrigter Rassie Erasmus gaan na verwagting vanmiddag sy span aanwys vir die wedstryd op die Wembley-stadion in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-972-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….