Nuus 08:00
BULLETIN 25 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie C sê “Cat” Matlala het beweer hy het gereelde kontak met minister Senzo Mchunu gehad
# Die MK-party verwerp Bheki Cele se koppeling van die party met Louis Liebenberg
# En krieket: Die Proteas pak Australië in hul laaste Wêreldbeker-groepwedstryd
# Getuie C het aan die Madlanga-kommissie gesê die vermeende kriminele baas Vusimuzi “Cat” Matlala het beweer dat hy gereeld in kontak was met die minister van polisie, Senzo Mchunu, op die dag van sy arrestasie op 14 Mei. Die getuie, ‘n lid van die taakspan vir politieke moorde, het ook getuig dat Matlala gespog het oor die betaling van multi-miljoen-rande se omkoopgeld aan die nasionale adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya en die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal Lesetja Senona, wat verband hou met ‘n SAPD-gesondheidsdienstender:
# Die MK-party het die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, se bewerings verwerp dat die party befondsing ontvang het van Louis Liebenberg, ‘n diamanthandelaar wat betrokke is by ‘n beleggingskandaal van vier-miljard-rand. Die party voer aan dat Cele gedurende sy ampstermyn ‘n plig gehad om op te tree indien die bewerings waar was, maar sy versuim om dit te doen, toon die bewerings is vals. MK-woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê die bewerings wat voor die Parlement se ad hoc-komitee gemaak is, is ongegrond, kwaadwillig en ‘n politieke foefie:
# Die Departement van Basiese Onderwys het sy vyfde agtereenvolgende ongekwalifiseerde oudit behaal, wat volgehoue vordering in skoon bestuur en finansiële dissipline aandui. Minister Siviwe Gwarube het die verslag aan die Parlement voorgelê en gesê die skoon oudit weerspieël die departement se verbintenis tot verantwoordbaarheid en integriteit. Terence Khala van die departement verklaar dat onreëlmatige uitgawes die afgelope twee-jaar met meer as 90-persent gedaal het, van 955- tot 68-miljoen rand:
# Japannese polisie het gister ‘n man met ‘n mens voor die Amerikaanse ambassade in Tokio in hegtenis geneem. Die 30-jarige is gearresteer nadat hy ‘n kombuismes na anti-oproer-polisiebeamptes gewys het. Die motief vir die man se optrede is nog nie bekend nie. Die voorval kom dae voor die Amerikaanse president Donald Trump se beplande besoek aan Japan van 27 tot 29 Oktober, waartydens hy keiser Naruhito en die nuutverkose eerste minister Sanae Takaichi sal ontmoet. Die polisie het tot 18-duisend polisielede gemobiliseer om sekuriteit tydens die besoek te versterk.
# En sportnuus:
# Krieket: Die Protea-vroue pak vandag die voorloper op die punteleer, Australië, in hul laaste Wêreldbeker-groepwedstryd in Indore, Indië. Albei lande het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer, saam met Engeland en Indië, maar die finale volgorde sal eers bevestig word na môre se wedstryde tussen Engeland en Nieu-Seeland, en Indië en Bangladesj. Woensdag se eerste halfeindstryd sal beslis word tussen die lande wat eerste en vierde op die punteleer eindig, en Donderdag se tweede een tussen die tweede en die derde span. Die eindstryd vind volgende Sondag plaas.
# En sokker: Liverpool se afrigter, Arne Slot is geensins bekommerd oor Mohamed Salahs se gebrek aan doele nie nadat hy in ses wedstryde nie ‘n enkele een kon aanteken nie. Die Egiptiese internasionale speler het sedert die openingsnaweek van die seisoen nog nie ‘n Premierliga-doel uit oop spel aangeteken nie. Hy is Woensdag uit die beginspan gelaat toe Liverpool Eintracht Frankfurt in die Kampioeneliga 5-1 geklop het, en is vervang laat in Liverpool se nederlaag van 2-1 teen Manchester United verlede week op Anfield. Hulle speel vandag teen Brentford.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….