Nuus 08:00
BULLETIN 24 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoofregter Maya is bekommerd oor die bewerings teen waarnemende regterpresident Ledwaba
# Die Kernenergiekorporasie ondersteun die Geïntegreerde Hulpbronplan 2025
# En krieket: Indië klop Nieu-Seeland vir ’n plek in die Wêreldbeker-halfeindronde vir Vroue
# Hoofregter Mandisa Maya sê die bewerings teen waarnemende regterpresident, Aubrey Ledwaba, kan die regstelsel se integriteit skade berokken. Getuie A het by die Madlanga-kommissie getuig hy het by ‘n informant gehoor dat 2,5-miljoen-rand eenkant gesit is om borgtog vir die moordbeskuldigde, Katiso “KT” Molefe, te verseker. Die getuie het egter nie geweet of die geld vir Ledwaba of die staatsaanklaer bedoel was nie. Maya sê Ledwaba ontken die bewerings teen hom en het dit duidelik gestel dat hy nie met spesiale verlof gaan nie.
# Die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie ondersteun die 2025 Geïntegreerde Hulpbronplan ten volle en sê dit verskaf ʼn omvattende en gebalanseerde raamwerk om die land se energie-toekoms te verseker. Die hulpbronplan van 2,2-duisend-miljard-rand is ʼn omvattende strategie wat voorkeur gee aan hernubare energie en gas terwyl dit afhanklikheid van fossielbrandstowwe beperk. Die korporasie se woordvoerder, Nikelwa Tengimfene, sê die plan gee erkenning aan kernenergie se rol om energiesekerheid te bereik:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het twee personeellede, ʼn onderwysassistent en ʼn algemene assistent, van sy Basiese Onderwys Indiensnemingsinisiatief in Soshanguve geskors. Dit volg na ʼn voorval waarin ʼn graad 5-leerder van Dimakatso Primary School beseer is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die werknemers is geskors hangende die uitslag van die ondersoek na die voorval:
# ʼn FBI-ondersoek het tot die inhegtenisneming van minstens 30 mense gelei wat huidige en gewese NBA-spelers en -afrigters insluit. Hulle is na bewering betrokke by weddenskappe en knoeiery in sport waarby die mafia betrek word. Dit sluit in die Portland Trail Blazers se hoofafrigter, Chauncey Billups, Miami Heat se Terry Rozier, en die voormalige speler, Damon Jones. FBI-direkteur, Kash Patel, sê die ondersoek betrek twee groot operasies: die gebruik van binnekring-inligting om weddenskappe op verskeie NBA-wedstryde te plaas, en ʼn ander wat verband hou met ondergrondse poker:
# Krieket: Indië het Nieu-Seeland volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode in Navi Mumbai met 53 lopies geklop en hul plek in die Vroue-wêreldbeker verseker. Pratika Rawal het haar eerste Wêreldbeker-honderdtal met 122 lopies aangeteken terwyl Smriti Mandhana 109 bygedra het om Indië se telling op 340 vir drie te bring in ʼn reën-deurweekte wedstryd. In antwoord daarop het Nieu-Seeland geëindig op 271 vir agt terwyl hulle ʼn hersiene teiken van 325 in 44 boulbeurte moes haal. Hulle is uit die halfeindrondewedloop met een wedstryd oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-446-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-117-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….