Nuus 08:00
BULLETIN 20 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika sal druk uitoefen vir ‘n billiker globale finansiële stelsel
# Die identifikasieproses van Limpopo-busongelukslagoffers sal vandag voortduur
# En motorsport: Verstappen behaal sy vyfde oorwinning van die seisoen by die Amerikaanse Grand Prix
# Adjunkpresident Paul Mashatile beloof Suid-Afrika se presidentskap van die G20 sal aandring op ‘n sterk Globale Suide-agenda wat fokus op skuldverligting, inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling. Talle lae- en middelinkomstelande staar hoë finansieringskoste, groot eksterne herfinansieringsbehoeftes en ʼn aansienlike uitvloei van privaat kapitaal in die gesig. Mashatile sê Suid-Afrika sal, met die klem op Afrika, aandring op ʼn regverdiger globale finansiële stelsel en skuldvolhoubaarheid takel.
# ‘n Voormalige kommunikasiehoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Lumka Oliphant, sê haar ontslag kom neer op teistering. In ‘n gedetailleerde verklaring beweer Oliphant politieke inmenging, korrupsie en intimidasie binne die departement onder minister Sisisi Tolashe. Oliphant het aan Newzroom Afrika gesê swart professionele persone word stilgemaak en uitgeskuif omdat hulle bestuurders uitdaag. Sy sê sy weier om spyt te wees dat sy oor die waarheid gepraat het. Sy hou vol haar ontslag is deur maande van geteikende vernedering en interne magstryd vooraf gegaan:
# Amptenare van die Limpopo-regering en die Zimbabwiese en Malawiese ambassades ontmoet vandag die families van die 43 mense wat verlede Sondag in ʼn busongeluk buite Louis Trichardt in Limpopo dood is. Die bus met 91 passasiers het van die pad geloop en teen ʼn wal afgestort. Die provinsiale regering se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê die ontmoeting is die volgende stap in die uitkenningsproses ná die afhandeling van die nadoodse ondersoeke:
# Minstens twee mense is dood toe ʼn vragvliegtuig by die Hongkong Internasionale Lughawe van die aanloopbaan geloop en in die see beland het. Die Emirates-vlug van Dubai het tydens landing ʼn voertuig getref en twee lede van die lughawe se grondpersoneel het in die see geval. Hulle is gered, maar het later in die hospitaal beswyk. Die vliegtuig se vier bemanningslede het oorleef. Dis slegs die tweede noodlottige voorval by die lughawe. In Augustus 1999 is drie mense dood toe ʼn passasiersvliegtuig van die Chinese Lugredery tydens ʼn tifoon probeer land het.
# Motorsport: Red Bull-renjaer, Max Verstappen, het ʼn oorheersende vertoning gelewer en spog ná die Amerikaanse Grand Prix met sy vyfde sege van die seisoen. Lando Norris van McLaren is tweede en Charles Leclerc van Ferrari is derde. Die voorloper in die bestuurderskampioenskap, Oscar Piastri van McLaren, was vyfde. Verstappen, wat strewe na ʼn vyfde agtereenvolgende bestuurderstitel, het 40 punte minder as Piastri, terwyl Norris 14 punte kort om voor te loop. Verstappen sê hy kan die kampioenskap wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-792-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-425-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….