Nuus 08:00
BULLETIN X (Maand) X vm/nm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê verlede jaar se spesiale kwytskeldingsproses was ‘n dekmantel om Jacob Zuma vry te laat
# Politieke kenners glo nie die uMkhonto weSizwe-party sal slaag nie
# En krieket, die Paarl Royals wen die wedstryd teen die Pretoria Capitals met ‘n hoë telling
# Die DA sê hy is geskok oor die getal misdadigers wat weer oortree het nadat hulle verlede jaar volgens president Cyril Ramaphosa se spesiale kwytskeldingsproses vrygelaat is. Oudpresident Jacob Zuma en 16-duisend-472 gevangenes is van Augustus tot November vrygelaat in ‘n sogenaamde poging om oorbevolking in tronke aan te spreek. Sewe-en-negentig van die wat vrygelaat is, is weer agter tralies. Janho Engelbrecht van die DA sê dis duidelik die ANC het ʼn staatsprogram as dekmantel vir Zuma se vrylating gebruik:
# ‘n Senior politieke dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Zakhele Ndlovu, meen die nuutgestigte uMkhonto weSizwe-party van die voormalige ANC-president Jacob Zuma, sal gelukkig wees om meer as vyf-persent van die stemme in KwaZulu-Natal te kry en baie min elders. Die party is op die 16de van verlede maand in Soweto bekendgestel. Ndlovu het aan die Daily Maverick gesê uMkhonto weSizwe word beskou as Zuma se stokvel, met hoofsaaklik Zoeloes en mense wat ongelukkig is oor hoe die huidige ANC-leierskap hulle behandel het. Hy sê hy kan nie sien hoe die party sukses kan behaal nie.
# Johannesburg se nooddienste sit vandag die soektog voort na ʼn vrou wat Vrydagaand deur vloedwater in Sunninghill meegesleur is. Sy het in Rivoniaweg naby Witkoppen gery toe haar voertuig in die Sandrivier weggespoel het. Die mediese nooddiens se woordvoerder, Xolile Khumalo, sê reddingswerkers sal voortgaan om die vrou langs die Jukskeirivier te soek wat deur die Leeuwkop-tronk in Sunninghill vloei:
# Ses mense is gearresteer omdat hulle verdink word dat hulle die Londense Aandelebeurs wou ontwrig deur te keer dat dit vandag open. Volgens berigte wou die groep groot ekonomiese skade aanrig deur met brandblussers vol rooi verf op twee draaideure voor die gebou te klim, en hulle dan met fietsslotte aan die glas-ingang vasketting. Die metro-polisie sê hierdie groep was gereed om ʼn ontwrigtende en skadelike toertjie uit te voer wat ernstige gevolge kon inhou as hulle daarin geslaag het.
# Krieket: Die Paarl Royals het ‘n oorwinning van tien lopies oor die Pretoria Capitals behaal in gister se SA20-wedstryd in Centurion. Mitchell van Buuren en David Miller het met ‘n vennootskap van 141 die Royals tot 210 vir drie gelei. Rilee Rossouw en Will Jacks van die Capitals het in reaksie hierop ‘n vennootskap van 147 bereik, ‘n rekord vir enige paaltjie in Centurion. Die Speler van die Wedstryd, Lungi Ngidi, het vier paaltjies laat kantel en die Capitals in hulle 20 boulbeurte tot 200 vir sewe beperk. Ngidi sê hul vertoning was oor die algemeen goed:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-525-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-57-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….