Nuus 08:00
BULLETIN 14 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA wil hê die Padongelukkefonds se voormalige raad moet aangekla word vir onaangetekende laste
# Die Britse premier sê hulle kan ‘n rol speel in die uitdiensstelling van Hamas se wapentuig
# En atletiek: Die benoemdes vir Baanatleet van die Jaar 2025 is aangekondig
# ActionSA sê hy is bekommerd dat die Padongelukkefonds heeltemal bankrot is met onopgetekende laste van meer as 500-miljard-rand. Dis byna ‘n vyfde van die nasionale regering se totale jaarlikse begroting. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê laste wat nie aangeteken is nie, is een van die ernstigste finansiële wanvoorstellings by enige staatsinstelling in demokratiese Suid-Afrika. Hy sê die fonds se voormalige uitvoerende raadslede moet aangekla word van pligsversuim:
Die parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge hoor intussen hierdie week getuienis aan oor die Padongelukkefonds se verkrygings- en finansiële bestuursprosesse. Drie persone sal vandag getuig. Die komitee het verlede week getuienis van die Spesiale Ondersoekeenheid aangehoor wat sistemiese skendings van vertrouenspligte, onregmatige verkrygings en finansiële wanbestuur insluit. Die Ondersoekeenheid het ook talle oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur uitgewys, wat verstekvonnisse van sowat 4,78-miljard-rand insluit.
# Die Nasionale Tesourie het bevestig die eThekwini-munisipaliteit se finansiële status is gesond gebaseer op ‘n hersiening van finansiële verslae en geouditeerde state. Die bevindinge toon konsekwente inkomstegroei en beklemtoon die behoefte aan praktiese maatreëls om langtermyn volhoubaarheid te handhaaf. Sleutelaanwysers van eThekwini se finansiële sterkte sluit in die aanvaarding van ‘n ten volle befondsde begroting, tydige betaling van krediteure binne 30 dae, en werknemerverwante koste teen 25,3-persent, wat binne die Tesourie se maatstaf val. Die burgemeester Cyril Xaba het die bevindinge verwelkom en die metro se verbintenis tot gesonde finansiële rentmeesterskap herbevestig.
# Eerste minister Keir Starmer sê die Verenigde Koninkryk kan ʼn rol speel om die Gaza-skietstilstand te monitor, maar ook om Hamas en sy wapens se vermoë buite aksie te stel. Die militante groep het voorheen geweier om sy wapens neer te lê tensy ʼn Palestynse staat gevestig word. Starmer sê dis belangrik dat daar geen oortredings is wat die instelling van die skietstilstand betref nie:
# Atletiek: Vyf mans- en vyf vroue-atlete is benoem vir die Wêreldatletiek-toekennings se baanatleet van die jaar. Drie Amerikaners, Noah Lyles, Rai Benjamin en Cordell Tinch, asook die Keniaan Emmanuel Wanyonyi, en Jimmy Gressier van Frankryk is die mans se kandidate. In die vrouekategorie is twee Keniane, Beatrice Chebet en Faith Kipyegon, twee Amerikaners, Melissa Jefferson-Wooden en Sydney McLaughlin-Levrone, en Femke Bol van Nederland benoem. Die ander kategorieë se benoemings word later die maand aangekondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-539-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….