Nuus 08:00
BULLETIN 8 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê ‘n aanval op ‘n polisiebeampte is ‘n aanval op die oppergesag van die reg
# Transnet toon noemenswaardige finansiële verbetering
# En AfriForum nader die hof oor Tshwane se omstrede skoonmaakheffing
# Die regering het enige vorm van fisiese of verbale aanval op polisiebeamptes of enige wetstoepassingsbeamptes veroordeel. Dit volg na ‘n video wyd op sosiale media versprei is wat wys hoe ‘n vroulike beampte in Kimberley, Noord-Kaap, aangerand word. Twee mense is sedertdien in hegtenis geneem en staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend die aanranding van ‘n polisiebeampte en die verset teen inhegtenisneming. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê ‘n aanval op ‘n polisiebeampte is ‘n aanval op die oppergesag van die reg:
# Transnet sê sy strategie van herbelegging met die oog op groei, tesame met volgehoue ondersteuning soos goedgekeurde regeringswaarborge van 51-miljard- en 94,8-miljard-rand, plaas die maatskappy op ‘n stabiele weg na langtermyn winsgewendheid. Dié staatsentiteit se inkomste het in die finansiële jaar tot 31 Maart 2025 met 7,8-persent gestyg tot 82,7-miljard-rand, teenoor 76,7-miljard-rand verlede jaar. Dit het ‘n netto verlies van 1,9-miljard-rand getoon, wat ‘n groot verbetering is van die verlies van 7,3-miljard rand in 2024. Transnet sê ondanks sy beter finansiële vertoning, word hy steeds deur reuse-bedryfsuitdagings in die gesig gestaar, insluitend ontsporings en die betroubaarheid van toerusting.
# AfriForum het ‘n dringende aansoek by die hof ingedien om te verhoed dat die Stad Tshwane voortgaan met die heffing van die omstrede skoonmaaktarief op inwoners. Die Hooggeregshof in Pretoria het in Junie die heffing onwettig verklaar, en die metro se aansoek om verlof tot appèl is ook van die hand gewys. Tshwane het egter in September ‘n petisie by die Hooggeregshof van Appèl ingedien, wat gelei het tot die opskorting van die aanvanklike hofbevel. Arno Roodt van AfriForum sê hulle wil hê die heffing moet herroep word totdat die appèlproses afgehandel is:
# Die Kanadese premier, Mark Carney, sê hy is optimisties oor die vooruitsigte om uiteindelik ‘n handelsooreenkoms met die VSA te bereik. Hy het Dinsdag die Withuis besoek. Die Amerikaanse president Donald Trump het in Julie ‘n heffing van 35-persent op Kanadese invoere ingestel, maar het vrystellings toegelaat vir goedere wat onder die handelsooreenkoms tussen die Verenigde State, Mexiko en Kanada val. Carney sê daar is gebiede waar Kanada en die VSA kan meeding, en gebiede waar die twee lande saam sterker sal wees:
# Sokker: Mamelodi Sundowns se voorspeler Iqraam Rayners is uit Bafana Bafana se deurslaggewende 2026 Wêreldbeker-kwalifiserende wedstryde teen Zimbabwe en Rwanda. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Rayners is weens mediese redes aan die groep onttrek. Evidence Makgopa is as sy plaasvervanger opgeroep. Rayners se onttrekking volg op dié van Orlando Pirates se voorspeler Relebohile Mofokeng weens ‘n besering. Suid-Afrika pak Zimbabwe Vrydag in Durban en Rwanda Dinsdag in Mpumalanga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-en-4-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-11-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….