Nuus 08:00
BULLETIN 7 Oktober 8 vm.
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi gaan vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn
# Dit is die tweede herdenking van die dodelike Hamas-aanval op Israel
# En rugby: Die Bulle sluit 13 Springbokke in vir sy VRK-toergroep na Ierland en Skotland
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat die bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek, sal vandag met sy verhore begin. Mkhwanazi, wat die eerste getuie sal wees, het korrupsie, politieke inmenging en misdadige infiltrasie van die regstelsel beweer. Die Parlement het advokaat Norman Arendse as sy getuienisleier aangestel. Die voorsitter van die komitee, Molapi Soviet Lekganyane, het aan die SABC gesê dat Mkhwanazi se getuienis effens sal verskil van die een wat hy voor die Madlanga-kommissie van ondersoek afgelê het:
# Die sameroeper van die Veelpartyhandves, professor William Gumede, glo Suid-Afrika se politieke fragmentasie het ‘n uitdaging en ‘n geleentheid vir sentristiese partye geskep. Build One South Africa, die GOOD-party, en RISE Mzansi het kragte saamgesnoer om Unite for Change te stig, voor die 2026 plaaslikeregeringsverkiesing. Gumede sê dit is belangrik om ‘n politieke middelpunt te hê, wat hy definieer as partye wat pro-grondwetlik, pro-entrepreneurskap en nie-rassig is, en wat ‘n alternatief bied vir die ANC en populistiese partye soos die EFF en MK Party.
# Die Gautengse regering het ‘n News24-artikel veroordeel wat suggereer dat die premier, Panyaza Lesufi se onlangs aangekondigde energieprojek van 64-miljoen-rand deel vorm van die Valke se korrupsie-ondersoek. Die artikel voer aan aan dat Lesufi se transformatorvervangingsprojek, wat aan die vooraand van die verkiesings in Mei 2024 bekendgestel is om dorpe en stedelike gebiede van krag te voorsien, nou in omstredenheid gehul is. Die provinsiale regeringswoordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die artikel is misleidend aangesien die Valke se ondersoek op City Power gefokus is en nie op die premier of die provinsiale regering nie:
# Vandag is die tweede herdenking van die dodelike Hamas-geleide aanval op die suide van Israel op 7 Oktober 2023. Een-duisend-200 mense is in die aanval dood, en nog 251 is gyselaar geneem. Die Israelse weermag het in reaksie ‘n inval in Gaza in van stapel gestuur. Sedertdien is 67-duisend-160 Palestyne dood en ongeveer 170-duisend in militêre operasies gewond. Die herdenking kom terwyl Israel en Hamas onregstreekse gesprekke in Egipte begin het oor ‘n Amerikaanse wapenstilstandvoorstel. Die militante groep het gesê hulle stem gedeeltelik saam met die vredesplanvoorstelle.
# Rugby: Dertien Springbok-spelers, insluitend Handrè Pollard, Wilco Louw en Canan Moodie, is ingesluit in die Bulle se 31-man-toergroep vir die Verenigde Rugby Kampioenskapwedstryde teen Ulster, Connacht en Glasgow Warriors. Pollard is op die punt om sy tweede Bulle-debuut te maak na hy weer by van Leicester Tigers by die Bulle aangesluit het. Kaptein Marcell Coetzee is uit na hy nie ‘n kopbeseringsevaluering geslaag het nie, terwyl Kurt-Lee Arendse ‘n dyspierbesering het. Afrigter Johan Ackermann sê hy hoop om die Bokke vinnig te integreer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17 sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-14 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-457 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-968 dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-56-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….