Nuus 08:00
BULLETIN 9 Julie vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement sê die Parlement moet die Openbare Beskermer ontbied oor Senzo Mchunu
# Die burgemeester van Johannesburg verdedig ‘n Duitse banklening van 3,8-miljard-rand
# En Netanyahu sê hy is gekant teen die VSA se verkoop van F35-vegvliegtuie aan Turkye
# Die African Transformation Movement sê hy wil hê die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, moet aan die Parlement verslag doen oor haar gesloer met die klag teen die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. Die Nasionale Kommissaris van Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het Mchunu beskuldig van onder meer politieke inmenging in misdaadondersoeke en sy aandeel in die ontbinding van die Taakspan vir Politieke Moorde. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê Gcaleka het na ‘n jaar nog geen terugvoer gegee nie:
# Die EFF sê die Nasionale Tesourie moenie ‘n pad volg wat die staat laat ineenstort en tot blote toeskouer verlaag nie. Die party veroordeel die Tesourie se besluit om 69 munisipaliteite se befondsing van altesaam 13,5-miljard-rand weens nienakoming tydelik te weerhou. Die EFF sê om die fiskale krisis op te los, stel hy voor die billike-aandeelformule word aangepas van die huidige nege- tot 15-persent van die inkomste wat nasionaal verkry word. Hy sê konstruktiewe stappe is nodig om plaaslike regerings se finansies te stabiliseer.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het die metro se besluit verdedig om 3,8-miljard-rand by die Duitse staatsbeheerde ontwikkelingsbank, KfW, te leen. Dit sal City Power help om die netwerk vinniger op te knap, meters op te gradeer en hernubare-energieprojekte befonds om energiesekerheid in die metro te bevorder. Sowat 1,75-miljard-rand is opsygesit vir Johannesburg Water se kapitale projekte. Morero sê die metro leen verantwoordelik en beklemtoon dat die lening bedoel is om sy finansiële en diensleweringsprobleme te hanteer.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het president Donald Trump van Amerika gewaarsku om nie F-35 Stealth-vegvliegtuie aan Turkye te verkoop nie. Hy sê dit sal die magsbalans in die Midde-Ooste “vernietig”. Trump het vroeër die week aangedui hy is bereid om ʼn verbod op die vliegtuie se verkope aan Ankara wat hy in sy eerste termyn ingestel het, om te keer. Netanyahu het aan CNN gesê Turkye is nie regtig ʼn model-bondgenoot van Amerika nie:
# Tennis: Die Britse promotorskeuse Arthur Fery het die negende gekeurde Italianer Flavio Cobolli verslaan om vir die eerste keer die halfeindronde te bereik. Die 23-jarige is slegs die vyfde Britse speler om die laaste vier van die manspelers in die eindronde te haal. Fery kom volgende teen Alexander Zverev van Duitsland te staan wat Taylor Fritz van Amerika geklop het. In die vrouetrekking het Marta Kostyuk van Oekraïne die Italianer Jasmine Paolin verslaan en kom nou teen Linda Noskova van Tsjeggo-Slowakye te staan nà haar oorwinning oor Elise Mertens van België.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-966-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-62-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….