Nuus 08:00
BULLETIN 14 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC het transformasie in Suid-Afrika gebring
# Beurtkrag wissel tussen fase 3 en 4
# En, krieket: Van der Dussen en Rickelton lei M-I Cape Town tot oorwinning in die SA20
# President Cyril Ramaphosa het die ANC geprys vir, wat hy noem, sy transformerende impak op Suid-Afrika sedert 1994. Tydens die 112de verjaardagvieringe in Mbombela, Mpumalanga, het Ramaphosa uitgelig wat hy bestempel as beduidende positiewe veranderinge in die land in vergelyking met die apartheidsera. Hy sê met die vordering wat die afgelope 30 jaar gemaak is, is vandag se Suid-Afrika ‘n aansienlik verbeterde weergawe. Ramaphosa sê die party se 112de herdenking is ‘n gepaste tyd om die land se prestasies te vier terwyl pogings om die land te verenig voortduur:
Ramaphosa het ook die bekendstelling aangekondig van ‘n nuwe ANC-skarebefondsings-inisiatief. Tydens ‘n gala-dinee in Mpumalanga, vroeër, het hy verduidelik, die inisiatief nooi ondersteuners om skenkings aan die ANC te maak. Hy beklemtoon die geld wat ingesamel word sal ‘n deurslaggewende rol speel in die verhoging van die party se finansiële lewensvatbaarheid en self-onderhoudenheid:
# Eskom het die voortsetting van fase 3-beurtkrag tot vanmiddag om vieruur bevestig, ná geringe verbetering in opwekkingskapasiteit sowel as die herstel van noodreserwes vir die week wat voorlê. Fase 4-beurtkrag sal ingestel word vanaf vieruur vanmiddag tot môre-oggend om vyfuur. Eskom verseker noukeurige monitering van die kragstelsel. Die waarnemende woordvoerder van Eskom, Aubrey Sambo sê die nutsmaatskappy se spanne werk hard om eenduisend-960 megawatt se opwekkingsvermoë teen môreaand weer in gebruik te neem.
# Taiwan se verkose president Lai Ching-te het onderneem om die self-regerende eiland te verdedig teen wat hy beskryf as “intimidasie” deur China. Kiesers het waarskuwings van Beijing verontagsaam en hom die verkiesingsoorwinning gegee, wat ‘n ongehoorde derde agtereenvolgende termyn beteken vir die Demokratiese Progressiewe Party. Reuters berig Beijing, wat voor die stemmery Lai ‘n ernstige bedreiging genoem het en kiesers aangemoedig het om hom te verwerp, het gister gesê die uitslag sal nie die onvermydelike tendens keer van China se hereniging nie.
# En, laastens, krieket: ‘n Honderdtal deur Rassie van der Dussen en 98 van sy mede-aanvangskolwer, Ryan Rickelton, het M-I Cape Town gister gelei na 243 vir vyf en ‘n oorwinning met 98 lopies in hulle SA20-wedstryd teen die Joburg Super Kings op die Wanderers in Johannesburg. Die Super Kings is almal uitgehaal vir 145 in 17 beurte en vyf balle om die besoekers ‘n bonuspunt-oorwinning te besorg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….