Nuus 08:00
BULLETIN 3 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die Madlanga-kommissie se vertragings kos belastingbetalers meer as ‘n miljoen-rand daagliks
# Die Minerale Raad sê onderhandelinge met die VSA sal die volhoubaarheid van werkgeleenthede beïnvloed
# En byna 42-duisend mense in Gaza het lewensveranderende beserings opgedoen
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het teruggekap na ‘n voormalige getuienisleier van die Madlanga-kommissie, advokaat Terry Motau. Sy sê hy moet die ware redes vir sy onttrekking gee en ophou vingers wys. Motau voer aan begrotingskwessies en vrese oor begrotingstekorte het sy besluit om aan die kommissie te onttrek, beïnvloed. Daar is 147-miljoen-rand aan die kommissie toegeken. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê begrotingskwessies wat met die kommissie verband hou, is behoorlik bestuur en oorgedra:
Die MK-party het die Madlanga-kommissie van ondersoek verder gekritiseer en noem dit ‘n politieke instrument wat ontwerp is om die regering teen verantwoordbaarheid te beskerm. Die party voer aan die kommissie mors belastingbetalers se geld want dit kos meer as een-miljoen-rand per dag sonder werklike uitkomste. Die Konstitusionele Hof sal na verwagting vandag uitspraak lewer oor die kommissie se geldigheid. Die MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê behoorlike verantwoordbaarheid moet van die Parlement af kom, nie duur kommissies nie:
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê in die kort tot medium termyn hang die Suid-Afrikaanse ekonomie se vermoë om werkgeleenthede te skep en te behou van handelsooreenkomste met Amerika af. Op ‘n kwartaallikse basis het mynbou twee-duisend werkgeleenthede in die tweede kwartaal bygevoeg met formele indiensneming sedert 30 Junie vanjaar 468-duisend in vergelyking met 466-duisend teen die einde van Maart. Die raad sê in die lang termyn is beleidmakers in die land nodig wat struktuur kan afdwing, insluitend om ‘n voorspelbare en belegbare omgewing om in te werk, te skep.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê byna 42-duisend mense, wat sowat tien-duisend kinders insluit, leef in Gaza met lewensveranderende beserings weens die voortslepende konflik. Hy sê die gesondheidstelsel stort ineen onder die konstante druk terwyl die oorlog voortduur. Dokter Rik Peeperkorn van die WGO sê meer as vyfduisend mense het amputasies en ander ernstige beserings aan hul arms, bene en ruggraat gehad. Hy raai meer lande aan om pasiënte te ontvang:
# Krieket: Bangladesj het hul tweede oorwinning ooit by ʼn Vroue-Wêreldbeker behaal toe hulle Pakistan met sewe paaltjies afgeransel het by hulle openingswedstryd in Colombo. Shorna Akter spog met ʼn loopbaan-beste van drie paaltjies vir slegs vyf lopies, met Pakistan wat na 38 boulbeurte en drie balle op 129 almal uit was. In antwoord daarop het Rubya Haider Jhilik ʼn onoorwonne 54 van 77 balle aangeteken en Bangladesj het koning gekraai met 113 balle oor. Die uitslag beteken Pakistan het slegs een van hul laaste 22 Wêreldbeker-wedstryde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-305-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-840-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….