Nuus 08:00
BULLETIN 27 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson sê ’n nuwe gevangenis sal korrupte politici en amptenare huisves
# Rugby: Die Bulle het steeds ses Bokke in hul beginspan vir hul openingswedstryd van die VRK by Loftus
# En Tafelberg bied vandag ‘n Erfenisbraaidag aan vir Wêreldtoerismedag
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê ‘n nuwe gevangenis vir korrupte amptenare en politici is voltooi en sal ná die 2026 plaaslike regeringsverkiesing in gebruik geneem word. Hy het munisipaliteite soos Ekurhuleni, Johannesburg en Nelson Mandelabaai uitgesonder as voorbeelde van waar korrupsie geseëvier het. Macpherson beklemtoon die fasiliteit is ‘n teken van die regering se verbintenis om korrupsie uit te roei en aanspreeklikheid te neem, en sê dit is tyd vir korrupte amptenare om geregtigheid in die gesig te staar:
# Defend Our Democracy het berigte veroordeel dat die voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, dopgehou word en intimidasie in die gesig staar wat verband hou met die Parlement se ondersoek na die Padongelukkefonds. Die woordvoerder, Naledi Kuali, sê sulke dade ondermyn die Parlement se grondwetlike oorsigrol en stel fluitjiblasers in gevaar, wat korrupsie in die Padongelukkefonds blootlê. Sy eis dat die Parlement en politieke partye beslissend optree om getuies te beskerm en aanspreeklikheid te verseker:
# Die eerste minister van Brittanje, Keir Starmer, het aan ‘n wêreldkonferensie van sentristies-linkse leiers gesê hulle moet onbeheerde migrasie aanpak en die “leuens” wat ver-regse politici oor hulle lande verkondig, konfronteer. By die vergadering in Londen was ook die Australiese eerste minister Anthony Albanese en die Kanadese premier Mark Carney. Dit het plaasgevind te midde van die oplewing van regsgesinde populisme oral in die wêreld en met die Republikein Donald Trump terug in die Withuis. Starmer sê dit is nou die tyd vir sosiaal-demokrate om die uitdagings en leuens wat in hulle lande posgevat het, direk te konfronteer.
# Sportnuus:
# Sokker: Liverpool, wat tot dusver die seisoen foutloos in die verdediging van hulle Premierliga-titel was, kom vandag voor ‘n strawwe toets te staan wanneer hulle besoek aflê by die onoorwonne Crystal Palace. Liverpool het weggespring met sewe agtereenvolgende oorwinnings in alle kompetisies, maar die Premierliga-voorlopers sal swaar getoets word by Selhurst Park. Liverpool, versterk deur hulle slag om laat wendoele aan te teken, is reeds vyf punte voor ná vyf liga-oorwinnings in ‘n ry. Intussen is Manchester United se afrigter, Ruben Amorim, desperaat op soek na ‘n oorwinning wanneer sy span vandag na die sukkelende Brentford vertrek.
# En rugby: Die Bulle word geknel deur beserings, maar die afrigter Johan Ackermann kon steeds ses Springbokke insluit in sy opdrafspan vir vandag se Verenigde Rugbykampioenskap wedstryd teen die Ospreys op Loftus. Dit is die eerste toets vir Ackermann se afrigtingstelsel sedert hy tweede maande gelede die span oorgeneem het. Onder die mees noemenswaardige insluitings, is die Springbok, Gerhard Steenekamp, terug van sy besering, Junior Springbokke, JJ Theron en Cheswill Jooste, en kaptein Marcell Coetzee. Willie le Roux is op die bank. Die wedstryd skop om 2nm af.
# En ten slotte: Die Tafelberg Kabelspoormaatskappy nooi Suid-Afrikaners uit om Wêreld-toerismedag vandag by die Erfenisbraai van 11-uur tot 5-uur te vier. Die geleentheid wat aanvanklik vir Erfenisdag geskeduleer was, is weens die weer uitgestel. Besoekers kan geregte, pryse en aktiwiteite bo-op die berg by die boonste stasie geniet insluitend boere worsrolletjies, bier, pret-uitdagings en gelukspryse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….