Nuus 08:00
BULLETIN 26 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê pogings is aan die gang om die gaping in globale gesondheidsfinansiering te oorbrug
# Die Treatment Action Campaign en SECTION27 is teen planne om UNAIDS te sluit
# En netbal: Die Baba-Proteas is deur na die kwarteindronde van die Wêreldjeugbeker
# President Cyril Ramaphosa sê konflik, ontheming, ekonomiese skokke en die klimaat het vordering in gesondheid en ontwikkeling omgekeer. Hy was medevoorsitter van die Netwerk van Wêreldleiers se geleentheid oor vroue-, kinder- en jeuggesondheid in New York. Ramaphosa sê sedert verlede jaar het belangrike programme vir vroue-, kinder- en jeuggesondheid ineengestort of ervaar ernstige tekorte. Hy sê die gesondheidsfinansieringsgaping wat ontstaan het deur die onttrekking van amptelike ontwikkelingshulp vir wêreldgesondheid moet herstel word:
# Die Treatment Action Campaign en SECTION27 is ernstig gekant teen die plan om UNAIDS te sluit omdat dit ‘n verwoestende uitwerking sal hê op die lewens van miljoene mense wat geraak word deur MIV/VIGS. Die Verenigde Nasies se agentskap wat op die MIV/VIGS pandemie fokus, kan so vroeg as die einde van volgende jaar sluit weens Amerika se besnoeiing van hulp aan die buiteland. SECTION27 se uitvoerende hoof, Sasha Stevenson, sê as UNAIDS nou sou sluit, sal dit dekades se vordering ondermyn en die globale koördinasie van die MIV reaksie verswak.
# Eskom sê alle noodsaaklike veiligheidstelsels by die Koeberg-kernaanleg in Kaapstad is ten volle funksioneel, word noukeurig gemonitor en voortdurend verbeter in ooreenstemming met streng kern-veiligheidstandaarde. Dit volg na berigte dat die noodsaaklike moniteringstelsel by die kragstasie foutief is en toetse herhaaldelik uitgestel word. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê hulle sal voortgaan om te belê in veiligheidstelsels, infrastruktuur en personeel om seker te maak Koeberg bly ‘n betroubare en veilige energiebron vir Suid-Afrika:
# ʼn Skietvoorval by ʼn Amerikaanse immigrasie- en doeane-veldkantoor in Dallas het tot een immigrasie-aangehoudene se dood gelei en twee ander is beseer. Beamptes sê ʼn voorlopige ondersoek toon die verdagte het van ʼn naasliggende gebou lukraak losgebrand op die ICE-gebou en ʼn bussie waarin die slagoffers was. Die skieter het homself daarna om die lewe gebring. ʼn Spesiale agent van die FBI, Joe Rothrock, sê hulle ondersoek die voorval as ʼn daad van geteikende geweld:
# Netbal: Die Suid-Afrikaanse onder 21-span is deur na die kwarteindronde van die Netbal Jeug-wêreldbeker in Gibraltar. Die Baba-Proteas is steeds onoorwonne by die toernooi ná ʼn gemaklike 85-35-sege oor Fidji in hul laaste Groep D-wedstryd. Suid-Afrika, wat tot dusver slegs vyfde kon kom by die toernooi, takel vandag die Cook-eilande vir ʼn plek in die halfeindronde. Ander spanne in die kwarteindronde is die verdedigende kampioene van Nieu-Seeland, Australië, Skotland, Engeland, Jamaika en Malawi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-573-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-735-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….