Nuus 08:00
BULLETIN 24 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra vir beduidende hervormings by die Verenigde Nasies en veroordeel Israel oor Gaza
# Die Gautengse Verkeerspolisie pleit vir padveiligheid op Erfenisdag
# En, duisende vlug uit hulle huise met Supertifoon Ragasa wat op Hongkong afpyl
# President Cyril Ramaphosa het gevra vir beduidende hervormings aan die Verenigde Nasies, veral die Veiligheidsraad, om ‘n meer billike en verteenwoordigende wêreldorde te weerspieël. Hy het gisteraand die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies toegespreek en Israel se optrede in Gaza sterk veroordeel, dit as “volksmoord” bestempel en die internasionale gemeenskap aangespoor om internasionale reg sonder vooroordeel af te dwing. Ramaphosa het die dringende behoefte aan ‘n tweestaatoplossing vir die Israeli-Palestynse konflik beklemtoon, en ook verwys na die oneweredige impak van klimaatsverandering, en skuld op ontwikkelende lande.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die adjunk-nasionale polisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya, ondersteun in sy poging om beheer oor alle polisiedossiere te neem. Masemola het by die Madlanga-kommissie in Pretoria getuig en sê dié inmenging het behoorlike toesig belemmer en die ondersoek na politieke moorde en misdaadkartelle vertraag. Hy het bygevoeg Mchunu ondersteun ook Sibiya se pogings om ondersoeke te sentraliseer, insluitend dié van die taakspan vir politieke moorde, wat die gevaar veroorsaak het om voortgesette ondersoeke te belemmer:
# Die Gautengse Verkeerspolisie het die publiek versoek om padveiligheid op Erfenisdag voorop te stel. Die woordvoerder, Sello Maremane, sê motoriste word in die lig van die verwagte verkeerstoename gevra om nie te bestuur wanneer hulle gedrink het nie, om spoedgrense te gehoorsaam en te sorg dat hul voertuie padwaardig is. Wetstoepassingsagentskappe sal ‘n sterk teenwoordigheid handhaaf om te sorg motoriste kom verkeersreëls na. Hy het Suid-Afrikaners gevra om erfenisterreine te respekteer en toe te sien dat kwesbare groepe tydens die vieringe veilig is:
# Vlugte is gekanselleer, skole en ondernemings gesluit, en duisende mense gedwing om hulle huise te verlaat, terwyl een van die sterkste tifone in onlangse jare na Suid-China en Hongkong beweeg. Supertifoon Ragasa, met winde naby sy middelpunt van ongeveer 220 kilometer per uur, beweeg oor die Suid-Chinese See na die Guangdong-provinsie. Dit word verwag dat Ragasa die land teen later vandag sal bereik waar watervlakke in kusgebiede tot twee meter kan styg. Ragasa het alreeds groot ontruimings veroorsaak toe dit oor Taiwan en die Filippyne beweeg het.
# Die Suid-Afrikaanse onder-20 sokkerspan kom vandag in Chili aan vir die Onder-20-Wêreldbeker. Die afrigter Raymond Mdaka het sy veelsydige 21-man groep geprys terwyl hulle voorberei om teen Frankryk, die VSA en Nieu-Kaledonië in die groepfase te staan te kom. Die afrigter sê as die wenners van die 2025 Cosafu onder-20-titel en die houers van die CAF onder-20 mans Afrika-nasiesbeker, is hulle oorgehaal vir die eerste wedstryd, Maandag teen Frankryk:
# En ten slotte, die Tafelberg-sweefspoormaatskappy nooi Suid-Afrikaners uit om Erfenisdag te vier met geur en plesier by die Erfenis-braaidag, vandag van 11vm tot 5nm. As gevolg van die ongunstige weer, is die sweefspoor gesluit, maar feestelikhede vind plaas by die laer sweefspoorstasie met kos, pryse en vermaaklikheid. Die uitvoerende hoof, Selma Hercules, sê Erfenisdag gaan oor eenheid en samesyn, en besoekers sal die atmosfeer geniet, pryse kan wen en ‘n gratis boereworsrolletjie kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….