Nuus 08:00
BULLETIN 22 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Polisiekommissaris is die volgende getuie voor die Madlanga-kommissie
# Fikile Mbalula sê die ANC se minder steun is grootliks te wyte aan kiesers wat nie gaan stem nie
# En Netanyahu sê daar sal geen Palestynse staat wees nie
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, getuig na verwagting vandag voor die Madlanga-ondersoekkommissie in Pretoria. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, was verlede week die kommissie se eerste getuie. Hy het onder meer uitgebrei oor ‘n georganiseerde misdaadsindikaat se beweerde insypeling by wetstoepassingsagentskappe en beweer dit was met behulp van belangrike figure in die sakewêreld, die Parlement en uitvoerende gesag. Masemola sal na verwagting op Mkhwanazi se bewerings reageer en ook verduidelik waarom die KwaZulu-Natalse polisietaakspan oor politieke moorde ontbind is.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party se laer stemsyfer is grootliks weens die feit dat sy ondersteuners nie gaan stem het nie, en nie omdat hulle vir ander partye gaan gestem het nie. Die ANC het in verlede jaar se verkiesing sy meerderheid verloor en 40,2-persent steun ontvang, wat 17 persentasiepunte minder steun weerspieël teenoor die 2019-verkiesings. Mbalula sê as hy die komende plaaslikeregeringsverkiesing wil wen, sal hy sy maatskaplike ooreenkoms met gemeenskappe moet hernu:
# Die DA veroordeel die Stad Ekurhuleni se onregmatige en ongrondwetlike poging om ʼn privaat eiendom sonder vergoeding te onteien. Volgens die drukgroep, Sakeliga, weier die metro om te betaal vir ʼn eiendom van 34-hektaar in Driefontein waarop hy in 2019 beslag gelê het vir ʼn behuisingsprojek. Op daardie tydstip is die eiendom gewaardeer teen minstens 30-miljoen-rand, met onafhanklike waarderings wat dit so hoog as 64-miljoen-rand gestel het. Willie Aucamp van die DA sê hulle sal aanhou veg om privaat eiendom te beskerm:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, verwerp die erkenning van ʼn onafhanklike Palestynse staat as ʼn absurde beloning vir terreur. Dit volg nadat die Verenigde Koninkryk, Kanada en Australië amptelik hul erkenning van ʼn Palestynse staat bekendgemaak het. Netanyahu sê hy het jare lank, ten spyte van geweldige plaaslike en internasionale druk, die skep van daardie terreurstaat gekeer. Hy sê hy sal op die jongste poging om ʼn terreurstaat op Israel af te dwing, reageer wanneer hy hierdie week van die Verenigde Nasies se Algemene vergadering in New York terugkeer.
# Motorsport: Red Bull-jaer Max Verstappen het ʼn sy vierde oorwinning van die seisoen by die Azerbeidjan Grand Prix behaal. George Russell van Mercedes was tweede en Carlos Sainz derde in sy eerste podiumplek vir Williams. Lando Norris van McLaren was sewende. Die gaping tussen hom en sy teenstander en spanmaat, Oscar Piastri, het tot 25 punte gekrimp nadat die voorloper in die Bestuurderskampioenskap in die aanvangsronde uitgeval het. Verstappen gee toe sy hoop op ʼn vyfde agtereenvolgende bestuurderstitel bly baie skraal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35 sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-36 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-471 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-691 dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-52-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….