Nuus 08:00
BULLETIN 18 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se G20-presidentskap staar ‘n begrotingstekort van 153-miljoen-rand in die gesig
# Solidariteit sê afleggings is die gevolg van swak regering deur die ANC
# En die EU stel planne voor om handel met Israel te beperk
# Die adjunkminister in die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Alvin Botes, sê Suid-Afrika het borgskappe van 149-miljoen-rand gekry om sy G20-presidentskap te ondersteun. In aanloop tot die G20-leiersberaad in Gauteng in November, het 90 van die 133 beplande vergaderings reeds plaasgevind. Botes het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking gesê daar is steeds ‘n begrotingstekort van 153-miljoen-rand. Die tema van die land se G20-presidentskap is solidariteit, gelykheid, volhoubaarheid. Dit weerspieël ʼn gesamentlike verbintenis om wêreldprobleme aan te spreek deur eenheid, regverdigheid en langtermynvolhoubaarheid.
# Solidariteit sê die ANC-geleide regering se mislukkings is die oorsaak van grootskaalse afleggings in verskeie sektore. Die vakbond sê in sy jongste verslag afleggings raak regstreeks of onregstreeks reeds meer as 350-duisend mense. Solidariteit se hoofsekretaris, Gideon du Plessis, sê afleggings in die mynbousektor kan toegeskryf word aan hoë insetkoste weens elektrisiteitstariewe en swak spoorvervoer. Hy sê bydraende faktore vir die motorvervaardigingsbedryf is ʼn ongunstige handelsklimaat en politieke onsekerheid:
# Die Valke het gister ʼn klopjag uitgevoer by die Polokwane-munisipaliteit se kantoor ná bewerings van tender-onreëlmatighede waarby kontrakte van 225,5-miljoen-rand betrokke is. Burgemeester John Mpe en munisipale bestuurder Thuso Nemugumoni het na bewering tenders toegeken aan hegte vriende en buitelandse maatskappye. Munisipale fondse is volgens berigte ook gebruik om die Makoro-stigting wat aan die burgemeester behoort, te befonds. Die munisipaliteit se woordvoerder, Thipa Selala, sê hulle sal hul volle samewerking aan die Valke gee.
# Die Europese Kommissie beplan om handel met Israel te beperk en sanksies in te stel teen sogenaamde ekstremistiese ministers in sy regering. Die voorstel moet deur die meerderheid van die Europese Unie se 27 lidlande aanvaar word, maar sal waarskynlik teenstand kry, veral van Duitsland en Italië. Die EU is Israel se grootste handelsvennoot, met meer as 32-persent van sy totale wêreldhandel in 2024. Die EU-hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sê hulle wil ook sanksies teen Hamas instel:
# Tennis: Oekraïne wat vir die eerste keer deelneem aan die Billie Jean Kingbeker-vrouekompetisie, is deur na die halfeindronde na ‘n oorwinning oor Spanje in China. Marta Kostuyk en Elina Svitolina het met Jessica Bouzas Maneiro en Paula Badosa afgereken. Oekraïne speel volgende teen die verdedigende kampioen, Italië, nadat Elisabetta Cocciaretto en Jasmine Paolini hard moes werk om die gasvroue uit te skakel. Kazakstan speel vandag in die kwarteindronde teen Amerika en Japan teen Groot-Brittanje. Die halfeindstryde word môre en Saterdag gespeel en die eindstryd Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40 sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-71 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-809 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-661 dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-41-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….