Nuus 08:00
BULLETIN 17 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF striem die Departement van Handel en Nywerheid vir korrupsie en wanprestasie
# Die Departement van Verdediging word gekritiseer oor meer as 20-miljoen-rand se reiskoste
# En Johannesburg Water sê sy waterstelsel is steeds onder druk
# Die EFF sê Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het sy basiese mandaat versaak en word gedryf deur afleidings wat die ANC se interne agendas dien. Dis in reaksie op die departement se prestasieverslag vir die tweede en derde kwartaal van 2024/2025. Die EFF-woordvoerder Sinawo Thambo veroordeel die departement oor korrupsie, onderprestering en politieke begunstiging. Hy noem spesifiek die 347-miljoen-rand wat ontvang is vir uitvoer van vervaardigde goedere, teenoor die teiken van 1,5-miljard-rand:
# ActionSA het die Departement van Verdediging en Militêre Veterane gekritiseer oor reiskoste van meer as 20-miljoen-rand. Minister Angie Motshekga het in ‘n geskrewe antwoord op ʼn vraag in die Parlement ʼn uiteensetting gegee van hoe sy, haar twee adjunkte en ondersteuningspersoneel belastingbetalers se geld op 22 internasionale reise na Rusland, Angola, China, Saoedi-Arabië, Frankryk en ander lande bestee het. Lerato Ngobeni van ActionSA sê die regering vergryp hom aan luukshede terwyl soldate, wat hul lewens in gevaarstel, die mees basiese ondersteuning ontsê word.
# Johannesburg Water sê die Alexanderpark-reservoir en die Berea-waterstelsel bly onder druk weens volgehoue groot aanvraag. Die metro staar ʼn waterkrisis in die gesig en onwettige waterverbindings dra grootliks hiertoe by. Johannesburg Water se woordvoerder, Pheladi Ramatshila, sê hulle monitor reservoirs, ook in Alexandra, om die beste verspreidingsvlakke te verseker:
# Die 22-jarige Tyler Robinson is amptelik aangekla van die moord op die aktivis, Charlie Kirk. Hy staar sewe aanklagte in die gesig: moord met verswarende omstandighede, onwettige afvuur van ʼn vuurwapen, twee aanklagte van regsverydeling, twee van inmenging by getuies, en pleeg van ʼn geweldsmisdaad in kinders se teenwoordigheid. Kirk is verlede Woensdag tydens ʼn geleentheid by Utah Valley University vermoor. Utah se distriksaanklaer, Jeff Gray, sê Robinson se DNS was op die sneller van die wapen waarmee Kirk doodgeskiet is:
# Rugby: Die Franse flank, Axelle Berthoumieu, se skorsing van 12 wedstryde nadat sy haar Ierse teenstander, Aiofe Wafer, tydens Sondag se Vroue-wêreldbeker-kwarteindstryd gebyt het, is tot nege verminder. Dit volg nadat sy geappelleer het teen die lang skorsing. ʼn Tugkomitee sê haar skulderkenning, skoon tugrekord, berou en openbare verskoning was voldoende versagting om die skorsing te verminder. Frankryk sal Saterdag in die halfeindstryd teen Engeland ook sonder Manae Feleu moet opdraf omdat sy na ʼn gevaarlike duikslag vir twee wedstryde geskors is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-701-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-683-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….