Nuus 08:00
BULLETIN 15 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC-raadslede vergader vandag om dienslewering te bespoedig
# Die verhoor van die drie diefstalbeskuldigdes by Ramaphosa se Phala Phala-plaas begin vandag
# En die Europese Unie veroordeel die skending van die Roemeense lugruim deur Russiese hommeltuie
# Die ANC, onder leierskap van die nasionale uitvoerende komitee, het alle partyraadslede van reg oor die land saamgeroep vir ‘n verpligte byeenkoms vandag in Johannesburg. Die doel is om vordering te beoordeel, riglyne te verskaf en dienslewering te versnel met aanspreeklikheid as middelpunt van die party se bedrywighede. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê een van die belangrike doelwitte van die vergadering is om die Dienslewering- en Infrastruktuur-aksieplan wat die NUK aanvaar het, bekend te stel:
# Die Nasionale Tesourie het hom op artikel 216 van die Grondwet beroep wat hom toestemming gee om fondse van staatsinstellings te weerhou wat wetgewing oor finansiële bestuur oortree. Munisipaliteite en staatsinstelling het die Ouditeur-generaal se kantoor einde Julie 1,83-miljard-rand geskuld. Dis ʼn aansienlike toename van die 1,35-miljard-rand wat in Maart aangeteken is. Herhaalde wanbetalers sluit Denel en die Suid-Afrikaanse Poskantoor in. Die Tesourie sê sy moniteringsraamwerk saam met die Ouditeur-generaal sluit in opsporing van wanbetalers en die aanbeveling dat bankrot-instellings se skuld afgeskryf word.
# Die verhoor van die drie beskuldigdes in die diefstalsaak van miljoene rand se buitelandse valuta op president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo in 2020, begin vandag in die Modimolle-streekshof. Imanuwela David, Froliana Joseph en Ndilinasho Joseph staar aanklagte van sameswering om huisbraak te pleeg in die gesig. Die NVG se streekswoordvoerder, Mashudu Malabi, sê beskuldigde nommer een, David, word ook van geldwassery aangekla:
# Die Europese Unie veroordeel Rusland se skending van Roemenië se lugruim. Dié land se ministerie van Verdediging sê hy het die naweek ʼn Russiese hommeltuig opgemerk toe twee F-16-vegvliegtuie die land se grens met Oekraïne gepatrolleer het. Pole het verlede week minstens drie Russiese hommeltuie in sy lugruim afgeskiet. Die EU-hoof van Buitelandse Beleid, Kaja Kallas, beskryf die voorval as nog ʼn onaanvaarbare skending van ʼn staat se soewereiniteit. Sy sê hierdie voortgesette roekelose optrede hou ʼn bedreiging in vir streeksveiligheid.
# Gholf: Die Sweed, Alex Noren, klop Adrien Saddier van Frankryk in ʼn uitspeelstryd om sy tweede BMW PGA-kampioenskap by die Wentworth-klub in Engeland te buit. Hulle was gelykop op 19 onder baansyfer, wat drie houe voor die res was. Noren, wat Span Europa se onderkaptein is, het gewen nadat hy op die eerste ekstra uitspeelputjie ʼn voëltjie aangeteken het. Dis sy 12de oorwinning op die DP World-toer. Aaron Rai van Engeland en die Amerikaner Patrick Reed is saam derde. Noren sê dit was ʼn behoorlike stryd teen Saddier:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38 sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-56 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-535 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-642 dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….