Nuus 08:00
BULLETIN 7 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Ayanda Dlodlo aan as ambassadeur in Frankryk
# Israel gaan voort met aanvalle op teikens in Suid-Libanon ten spyte van die wapenstilstand
# En sokker: Donald Trump bevestig hy het die hoof van FIFA gebel oor Folarin Balogun se rooikaart
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige minister van Staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, as Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk aangewys. Sy volg Nathi Mthethwa op wat in September dood is nadat hy sedert 2024 ambassadeur was. Die 63-jarige Dlodlo het verskeie kabinetsposte onder Ramaphosa en oudpresident Zuma beklee. Sy was in die veiligheidsportefeulje tydens die dodelike onluste in Julie 2021 en het in April 2022 bedank om ʼn pos by die Wêreldbank te aanvaar. Haar aanstelling kom in aanloop tot Ramaphosa se tweedaagse werksbesoek aan Frankryk later die week.
Intussen het die DA die president se besluit gekritiseer om Dlodlo in die pos aan te stel. Die party beskuldig die president dat hy die belange van ANC-kaders bo dié van die land en sy buitelandse beleid stel. Ryan Smith van die DA sê Dlodlo was ernstig onder verdenking en het nie die integriteit of vaardighede om met ekonomiese diplomasie en internasionale handel vertrou te word nie.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het gemeenskappe gevra om skoolinfrastruktuur te beskerm en sê elke klaskamer, sanitasiegerief en skool wat bewaar word, is ‘n belegging in die gemeenskap se toekoms. Al drie-duisend-372 skole wat in die 2018 “Sanitasie Geskik vir Onderwys”-inisiatief geïdentifiseer is, het nou veilige en toepaslike sanitasiegeriewe. Gwarube sê die suksesvolle uitwissing van die agterstand beteken egter nie dat elke puttoilet in die land verwyder is nie. Sy sê sommige skole het nuwe sanitasie-uitdagings of was nie deel van die oorspronklike 2018-oudit nie.
# Die Israelse weermag het gister verskeie aanvalle in die suide van Libanon uitgevoer, onder meer ʼn hommeltuigaanval op ʼn motor waarin vier mense dood is. ʼn Skoolhoof, haar ma, ʼn buitelandse huishulp en ʼn Siriër is dood. Ten spyte van ʼn skietstilstand wat Amerika bewerkstellig het en twee weke gelede onderteken is, gaan Israel voort met aanvalle in die suide van Libanon. Hy sê sy teikens is die Iran-ondersteunde Hisbolla-groep se persele en soldate. Volgens berigte is ongeveer vier-duisend-300 mense sedert 2 Maart in Israelse aanvalle in Libanon dood en meer as 1,2-miljoen is ontheem.
# Sokker: President Donald Trump erken hy het FIFA-president Gianni Infantino persoonlik gekontak om die Amerikaanse doelskopper, Folarin Balogun, se skorsing van een wedstryd by die Wêreldbeker te heroorweeg. Die 25-jarige speler sou sy span se wedstryd in die laaste 16 teen België misloop nadat hy in die laaste 32 ʼn rooi kaart gekry het na vuilspel teen Bosnië-Herzegowina se verdediger, Tarik Muharemovic. FIFA het besluit om Balogun se skorsing vir ʼn jaar op te skort. Trump sê FIFA het die regte besluit geneem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-264-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-131-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….