Nuus 08:00
BULLETIN 11 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika kritiseer Rusland vir sy onoordeelkundige lugaanval op burgerlikes in Oekraïne
# Die konserwatiewe aktivis en Trump-bondgenoot, Charlie Kirk, word in Utah doodgeskiet
# En krieket: Suid-Afrika klop Engeland in die openingswedstryd van die T20-reeks
# Die Suid-Afrikaanse regering het kommer uitgespreek oor Rusland se blindelingse aanvalle op burgerlikes waarin pensioenarisse in die dorp, Yarova, in die ooste van Oekraïne dood is. Tydens die Russiese lugaanval op Yarova in die Donetsk-provinsie is 24 mense dood en 19 beseer. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die doelbewuste aanval op burgerlikes is ‘n oortreding van internasionale humanitêre reg en menseregte-wette en -beginsels:
# Die United African Transformation sê die voortgesette nasionale makro-organisasie van die regeringsproses bedreig landelike ontwikkelingsprogramme. Die party waarsku meer as 200 amptenare van die Direktoraat Koöperasies en Ondernemingsontwikkeling word gedwing om landbourolle aan te neem waarvoor hulle nie opgelei is nie en dit stel die sukses van grondhervormingsprojekte in gevaar. Die party se leier, Wonder Mahlatsi, vra die Ministerie van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om die verplasings te staak, personeelkundigheid te beskerm en landelike gemeenskappe te beveilig:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, se vinnige ingryp by die Kaapstad Kollege verwelkom. Die minister het ‘n taakspan saamgestel om die bestuurskrisis by die kollege te ondersoek. Dit sluit in bewerings van onregverdige arbeidspraktyk, misbruik van mag, wangedrag en geldverkwisiting en onreëlmatige uitgawes. Die komitee sê die akademiese sukses van die studente mag nie onder die voortgesette onbestendigheid by die kollege ly nie. Hy het gevra vir dringende stappe om die kollege te herstel.
# Die konserwatiewe politieke aktivis en medestigter van Turning Point USA, Charlie Kirk, is tydens ʼn geleentheid by die Utah Valley University doodgeskiet. Die 31-jarige Kirk wat ook ʼn bondgenoot van president Donald Trump was, het buitelug-debatte op kampusse reg oor Amerika gehou met temas soos transgender-identiteit, klimaatsverandering, geloof en gesinswaardes. Trump sê dis ʼn donker oomblik in Amerika, want Kirk was ʼn martelaar vir waarheid en vryheid:
# Krieket: Suid-Afrika het Engeland volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met 14 lopies verslaan nadat reën die kragmeting in Cardiff ontwrig het. Die Proteas loop nou 1-0 voor in die T20-reeks van drie wedstryde. Aanhoudende reën het die wedstryd met twee ure vertraag en elke span het nege beurte gekry. Aiden Markram het 28 behaal en die Proteas kon 97 vir vyf aanteken voor reën die spel weer onderbreek het. Engeland se teiken is aangepas tot 69 in vyf boulbeurte. Corbin Bosch en Marco Jansen het twee paaltjies platgetrek en die gashere se eindtelling was 54 vir vyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-142-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-633-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….