Nuus 08:00
BULLETIN 9 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile doen ‘n beroep op ‘n geïntegreerde gesondheidstelsel in die stryd teen MIV/VIGS
# Die EFF dien sy Wysigingswetsontwerp op Drank by die Parlement in
# En premier Lesufi reageer op die Menseregtekommissie se kommer oor uitsettings
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê daar is ‘n behoefte om struikelblokke te verwyder en billike en gelyke toegang tot dienste te bied deur veerkragtige en geïntegreerde gesondheidstelsels. Hy het gister die 12de SA Vigs-konferensie in Gauteng geopen in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad. Sowat agt-miljoen mense in Suid-Afrika het MIV/Vigs. Mashatile sê dis belangrik om gemeenskappe te bemagtig en voorkeure vir MIV/Vigs te herdefinieer:
Die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het intussen Suid-Afrika geprys vir sy leierskap te midde van groot ontwrigtings wat veroorsaak is deur die besnoeiings in hulp. Hy het ‘n boodskap van ondersteuning vir die 12de SA VIGS-konferensie virtueel gelewer. Tot 70 persent van die Amerikaanse president se noodplan vir VIGS-verligting-befondsing wat tot dusver vanjaar vir die land verwag is, is gestaak. Ghebreyesus sê die Suid-Afrikaanse regering het vinnig opgetree om die befondsingstekort aan te spreek:
# Die EFF sê hy het amptelik ʼn privaat wetsontwerp by die Nasionale Vergadering ingedien om alkohol-advertensies te verbied. Die Drank-wysigingswet wil die Drankwet van 2003 wysig. Buiten ʼn verbod op advertensies, wil die wetsontwerp ook keer dat handelsmerk-elemente, maatskappyname of borgskappe wat met drank verband hou, by georganiseerde byeenkomste gebruik word. Die EFF maan die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, om die wetsontwerp vinnig na die portefeuljekomitee vir Handel, Nywerheid en Mededinging te verwys.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie hoef nie bekommerd te wees oor sy beplande massa-uitsettings en aftakeling van informele nedersettings nie. Die provinsiale regering het begin met profielsamestelling van inwoners van 400 plakkerskampe en het beloof om vinnig op te tree teen nuwe grondbesettings. Die kommissie het kommer uitgespreek oor die premier se planne en beskryf dit as gevaarlik en onmenslik. Lesufi sê die regering sal nie onwettige grondbesetting duld nie:
# Krieket: Engeland gee sy top-orde-kolwers, Ben Duckett en Jamie Smith, ʼn blaaskans tydens die T20-reeks teen Suid-Afrika. Dit lyk asof Phil Salt, wat terugkeer ná vaderskapsverlof, die kolfbeurt sal open saam met óf Tom Banton óf Will Jacks. Die hoofafrigter, Brendon McCullum, sê hulle moet leer hoe om hulle besige internasionale program beter te hanteer, wat insluit dat spelers ʼn ruskans kry. Die eerste van die drie wedstryde in die T20-reeks begin môre in Cardiff.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-557-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-648-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….