Nuus 08:00
BULLETIN 8 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit maak ‘n lastersaak teen minister Khumbudzo Ntshavheni aanhangig
# Vyf misdaadvoorkomingsbewaarders gewond in ‘n aanval tydens patrollie in Daveyton
# En die Australiese sampioen-moordenaar tot lewenslange tronkstraf gevonnis met parool eers na 33 jaar
# Solidariteit het ‘n lastersaak teen die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, ingedien nadat sy die vakbond beskuldig het dat hy verkeerde inligting versprei. Dit hou verband met plaasmoorde en vermeende wit volksmoord in Suid-Afrika. In sy beëdigde verklaring wat by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien is, doen Solidariteit ʼn beroep op die hof om te verklaar dat hy onregmatig deur Ntshavheni belaster is. Dirk Hermann van Solidariteit sê hulle kan nie langer toelaat dat senior regeringsamptenare met laster wegkom nie:
# Adjunkpresident Paul Mashatile in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad, open vandag die 12de Suid-Afrikaanse Vigskonferensie by Emperors Palace in Gauteng. Die tema is: Verenig vir verandering – Bemagtig gemeenskappe en herdefinieer prioriteite vir MIV/Vigs. Die Presidensie sê die geleentheid bring leiers, navorsers en akademici van reg oor die wêreld byeen om die veranderende landskap van die stryd teen vigs en die bestuur daarvan te bespreek.
# Die Gautengse polisie soek na die verdagtes wat Sondag vyf misdaadvoorkomingsbewaarders in Daveyton, Ekurhuleni, in ‘n skietery gewond het. Die bewaarders was glo besig met die uitvoering van hul pligte toe ‘n groep mense weerstand gebied het, en ‘n skermutseling uitgebreek het. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê die bewaarders het ongeveer 12 mense gesien wat verdag voorgekom het en wou hulle deursoek, maar hulle het gevlug en op die bewaarders geskiet:
# Die Hooggeregshof in Victoria het ʼn Australiese vrou, Erin Patterson, drie lewenslange vonnisse opgelê en sy mag eers na 33 jaar vir parool in aanmerking kom. Sy is in Julie skuldig bevind aan die moord op drie persone. Sy het in 2023 ʼn maaltyd van bief-wellington met giftige sampioene aan die ouers, oom en tante van haar vervreemde man, Simon Patterson, voorgesit. Slegs een persoon het die dodelike middagete oorleef. Regter Christopher Beale sê Patterson se oortreding is in die ergste kategorie van moord en poging tot moord.
# Tennis: Die 22-jarige Carlos Alcaraz het die Italianer, Jannik Sinner, verslaan en sy tweede Amerikaanse Ope-titel gewen. Die Spanjaard het ʼn veelsydige vertoning gelewer om sy groot teenstander te verslaan en sy sesde Grand Slam-titel op te raap. Alcaraz is die tweede jongste man naas Bjorn Borg wat in die Ope-era ses major-titels in die mans-enkelspel kon wen. Dit was dié twee spelers se 15de loopbaanontmoeting en derde agtereenvolgende Grand Slam-eindwedstryd. Alcaraz sê sy wedywering teen Sinner is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59 sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-75 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-158 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-586-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….