Nuus 08:00
BULLETIN 6 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Africa Mayibuye Movement word amptelik ‘n nuwe politieke party
# Die DA sê ‘n nuwe verslag onthul ‘n ANC-gemanipuleerde elektrisiteitspryskrisis
# En Tennis: Sabalenka sien uit na die kragmeting met Kyrgios in ‘n vertoonwedstryd
# Die Mayibuye-raadplegingsproses het amptelik na ‘n politieke party oorgeskakel met die bekendstelling van die Afrika Mayibuye Movement. Onder leiding van die uitgeskopte sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, poog die nuwe beweging om onafhanklik te wees en gemeenskappe, vakbonde en burgerlike groepe te verenig. Shivambu het op ‘n nuuskonferensie gesê die beweging verwelkom lede van alle agtergronde en is nie ‘n wegbreekparty van die MK-party, die EFF of die ANC nie:
# Die DA sê die Mededingingskommissie se verslag oor lewenskoste bevestig die ANC het sedert 2020 ‘n mislukte elektrisiteitsbeleid gedryf met pryse wat met 68-persent opgegaan het, meer as dubbeld dié van inflasie. Die party voer aan gesinne word gedwing om tussen kos en elektrisiteit te kies. Die DA-lid, Kevin Mileham, vra vir ‘n nuwe prysbeleid, ‘n einde aan Eskom se monopolie, en volle aanspreeklikheid vir regulatoriese mislukkings, insluitend die energiereguleerder Nersa se onlangse foutiewe berekening van 54-miljard-rand:
# Die Putco Busmaatskappy sê hulle ontplooi hierdie naweek byna 300 busse om aanbidders na die Zion Christian Church-byeenkoms in Moria, Limpopo, te vervoer. PUTCO se woordvoerder, Lindokuhle Xulu, sê hulle sal na verwagting byna 18-duisend gemeentelede vervoer. Hy sê busse het reeds van vroeg oggend vanaf Gauteng en Mpumalanga begin vertrek, en die terugreise begin Sondag:
# Die energiereguleerder, Nersa, het Cape Ocean Terminals se aansoek vir ‘n lisensie goedgekeur om ‘n petroleumbergingsaanleg en pyplyn in Saldanha, in die Wes-Kaap, te bou. Die ontwikkeling, bekend as Projek Albatros, sal in fases bekendgestel word, met ‘n algehele potensiële kapasiteit van 390-duisend kubieke meter brandstof. Charles Hlebela van Nersa sê die projek sal infrastruktuurbelegging ‘n hupstoot gee en plaaslike ekonomiese ontwikkeling ondersteun.
# Buckingham-paleis het met diep hartseer aangekondig dat die Hertogin van Kent in die ouderdom van 92 gesterf het. Volgens ‘n verklaring is sy gisteraand vreedsaam in Kensington-paleis dood, omring deur haar familie. Die hertogin, Katharine, was die oudste lid van die koninklike familie, getroud met Prins Edward die Hertog van Kent en ‘n niggie van wyle Koningin Elizabeth II. Sy sal onthou word as ‘n bekende figuur by die Wimbledon-tenniskampioenskappe, waar sy die trofeë oorhandig het.
# En, tennis: Die Wêreld se voorste speler, Aryna Sabalenka, sê sy gaan haar bes doen om Nick Kyrgios se “sitvlak te skop” indien die beoogde ‘Battle of the Sexes‘-wedstryd voortgaan. Die wedstryd tussen Sabalenka en die gewese Wimbledon-finalis word tans bespreek maar die datum en plek is nog nie bevestig nie. Drie amptelike sogenaamde ‘Battle of the Sexes-wedstryde is al gespeel. In 1973 het die veteraan Bobby Riggs vir Margaret Court geklop, met Billie Jean King wat vier maande later wraak geneem het. En in 1992 het Jimmy Connors die wedstryd teen sy mede-Grand Slam-kampioen Martina Navratilova gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….