Nuus 08:00
BULLETIN 11 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Numsa beskryf Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel as belangrik
# Namibië is onder die lande wat Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel steun
# En, Paul Mashatile kritiseer Jacob Zuma en sy nuwe politieke party
# Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika beskryf Suid-Afrika se saak teen Israel as moontlik die belangrikste in moderne geskiedenis. Die Internasionale Geregshof sal vandag en môre Suid-Afrika se saak aanhoor waar Israel van volksmoord teen Palestyne in Gaza beskuldig word. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle glo Israel wil die hele Palestynse bevolking uitwis:
Intussen sê Namibië hy ondersteun Suid-Afrika se saak teen Israel in die Internasionale Geregshof wat ten doel het om die land se militêre bedrywighede in Gaza te stop. Namibië se uitvoerende direkteur in die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Penda Naanda, sê hulle ondersteun internasionale pogings om die regte van die Palestynse volk te bevorder:
# Die ANC-adjunkpresident Paul Mashatile het oudpresident Jacob Zuma en ander wat die regerende party verlaat, gekritiseer en bevraagteken of hulle ooit werklik lojaal was aan die party. Zuma is die openbare gesig van ‘n onlangs geregistreerde politieke party wat na die ANC se gewapende vleuel, uMkhonto weSizwe vernoem is. Mashatile sê die party moenie diegene ondersteun wat nié is wat hulle voorgee nie en later ʼn probleem word. Intussen sê die president van die ANC-vroueliga, Sisi Tolashe, Zuma en sy vals MK-soldate moet geïgnoreer word.
# KwaZulu-Natal se polisie het ʼn soektog begin ná die moord op ʼn speurder van die Valke. Die 63-jarige Sikhetho Mawila was verbonde aan die Valke se Waarheids- en Versoeningskommissie wat deur president Cyril Ramaphosa ingestel is. Mawila se liggaam met twee skiet- en drie steekwonde is ʼn oop veld in Tsakane gevind. Die Valke se nasionale hoof, Godfrey Lebeya, het ʼn multidissiplinêre span aangestel om Mawila se moord te ondersoek en seker te maak die skuldiges word gou vasgetrek.
# Motorsport: Guenther Steiner het sy rol as spanhoof van die Formule Een-Haasspan met onmiddellike ingang verlaat. Die Italianer was in beheer van Haas sedert die span in 2016 by Formule Een aangesluit het. Haas het verlede jaar laaste geëindig in die vervaardigerskampioenskap. Die span se direkteur van Ingenieurswese, Ayao Komatsu, is in Steiner se plek aangestel. Haas se eienaar, Gene Haas, sê dis duidelik dat hulle prestasies op die baan moet verbeter. Die seisoen se eerste wedren is die Bahrein Grand Prix wat volgende maand plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-414-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….