Nuus 08:00
.NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party vra dringende optrede vir ‘n basiese inkomste-toelaag
# Israelse soldate voer ‘n operasie teen Hamas uit by die Al-Shifa-hospitaal
# En tennis, Jannik Sinner behaal sy eerste oorwinning ooit oor Novak Djokovic
# Die GOOD-party vra dringende optrede vir ‘n basiese inkomste-toelaat van 999-rand per maand na aanleiding van Suid-Afrika se huidige werkloosheidsyfer van 31,9-persent. Ondanks ‘n effense verbetering van 0,7-persent, glo die party die syfers onderstreep die volgehoue behoefte om armoede teen te werk in die sukkelende ekonomie. Woordvoerder Brett Herron sê die toelaag is ‘n onmiddellike, doeltreffende stap wat nodig is om die broodlyn te verlaag:
Speel klankgreep: ENG-HerronOnBIG
Intussen toon die jongste kwartaallikse indiensnemingsopname van Statistieke Suid-Afrika vir die derde kwartaal Kaapstad het die afgelope jaar 205-duisend nuwe werksgeleenthede geskep wat meer is as al die ander metro’s saam. Dié metro se werkloosheidsyfer het op ʼn jaar-tot-jaar-basis met 3,8-persent gedaal. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad se ekonomie toon veerkragtigheid met indiensnemingsvlakke wat die afgelope drie kwartale bo voor-Covid-vlakke is:
Speel klankgreep: ENG GeordinonUnemployment
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers sê hy het besluit om die geslotegeledere-ooreenkoms by Gold One Modder East Mine in Springs, Gauteng, te beëindig. Werk het verlede week tot stilstand gekom nadat die myn uitgevind het werkers beplan nog ʼn ondergrondse sitstaking soos wat drie weke gelede plaasgevind het. Werkers weier dat NUM, wat die meeste lede het, hulle verteenwoordig en verkies die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie, AMCU. NUM sê hy het die verantwoordelike besluit geneem om werksgeleenthede en lewens van onskuldige werkers te beskerm.
# Die Israelse weermag sê hy voer ʼn presisie- en teiken-operasie teen Hamas uit in ʼn spesifieke deel van die Al-Shifa-hospitaal in Gaza-stad. Die hospitaal het ʼn strategiese doelwit vir Israel geword wat dit beskou as die kern van Hamas se administratiewe en militêre vermoëns. Die Israelse weermag sê hy het owerhede in Gaza onlangs aangesê om alle militêre aktiwiteite in die hospitaal te staak, maar dit gebeur nie. Hy voeg by die doel is om te keer dat burgerlikes wat deur Hamas as menslike skilde gebruik word, seerkry.
# Tennis: Jannik Sinner het sy eerste oorwinning ooit oor Novak Djokovic behaal en die wêreld se nommer een sy eerste nederlaag sedert Wimbledon by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn laat ly. Die Italianer het die Serwiër met 7-5, 6-7 en 7-6 geklop en is daarmee ‘n stap nader aan ‘n halfeindwedstryd in die Groen Groep. In die ander wedstryd moes die Griek, Stefanos Tsitsipas, na slegs drie potte teen Holger Rune weens ‘n mediese rede onttrek, wat die Deen sy eerste oorwinning besorg het. Sinner sê dit beteken baie om die wêreld se nommer een te klop:
Speel klankgreep: ENG SinnerOnBeatingNovak
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-463-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-965-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….