Nuus 08:00
BULLETIN 29 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre Ampsklagkomitee gaan voort met voorbereidings
# Die VSA en Saoedi-magte voer gesamentlike vergeldingsaanvalle teen Iranse terroriste in Irak uit
# En Span SA wen nog vyf medaljes by die Statebondspele in Glasgow
# Die parlementêre Ampsklagkomitee gaan vandag voort met sy voorbereidingswerk. Een van die agendapunte is die gevolg van die onlangse beslissing deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof oor president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek. Die hof het ‘n dringende tussentydse interdik aan die president toegestaan, wat die ampsklagproses onderbreek, terwyl sy aansoek vir die hersiening van die onafhanklike paneel se verslag oor sy aanspreeklikheid in die Phala Phala-saak, steeds hangende is. Die komitee sal ook verder beraadslaag oor die konsep-verwysingsraamswerk en die bygewerkte lys van benoemings vir die rol van getuienisleier.
# Die uittredende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, Reginald Demana, erken die agentskap was nie opgewasse om die padonderhoud-tender van 9,5-miljard-rand aan ‘n paneel van 20 maatskappye toe te ken nie. Die Hooggeregshof in Pretoria het die tender ongrondwetlik en onregmatig verklaar nadat twee konstruksiemaatskappye, BCB Solutions en Botle Ba Afrika Roads, SANRAL se besluit om hul bod te verwerp, uitgedaag het. Demana sê die agentskap het in verskeie hofsake tweede gekom weens probleme met sy verkrygingsprosesse en -praktyke:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die publiek verseker daar is geen tekort aan toetsstelle vir bewyse van verkragting vir volwassenes of kinders nie. Volgens Cachalia is die stelle landwyd beskikbaar, en meer word versprei om fasiliteite volledig te voorsien. Die woordvoerder van die Polisieministerie, Kamogelo Mogotsi, sê die stelle is noodsaaklik vir die insameling van forensiese bewyse, die ondersteuning van ondersoeke en die hulp om oortreders van seksuele geweld voor die gereg te bring:
# Die Amerikaanse Sentrale Bevel sê Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps het in ʼn “verrassingsaanval” ballistiese missiele op Amerikaanse basisse in die streek afgevuur. Al die missiele is onderskep. Centcom sê die Amerikaanse weermag en magte van Saoedi-Arabië het gesamentlike presisie-aanvalle uitgevoer teen “Iran-gesinde terroriste” in Irak. Hy sê die aanvalle was gemik op groepe wat deur die Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps gelei is om Amerikaanse magte en Saoediese energie-infrastruktuur aan te val. Iran het Saoedi-Arabië herhaaldelik tydens die oorlog geteiken, maar hy het hom grootliks van ʼn militêre reaksie weerhou.
# Statebondspele: Suid-Afrikaanse swemmers het nog vyf medaljes ingepalm en daarmee die land se totaal in Glasgow tot 16 laat styg. Chad le Clos het sy 20ste medalje by die Spele ingepalm toe hy Span SA gehelp het om silwer in die gemengde vier-by-100-meter-aflos te verower. Lara van Niekerk het in die vroue 50-meter borsslag goud gewen, terwyl Aimee Canny silwer in die vroue 200-meter individuele wisselslag verower het. Die paralimpiese atlete Danicka Vyncke en Nathan Hendricks het silwermedaljes in hul onderskeie S13 50-meter vryslagdissiplines gewen. In Netbal het Span SA ‘n 78-30 oorwinning oor Noord-Ierland behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-643-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-26-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….